25 dae gelede
Inwoners red kid
Melvin Volkwyn  ~ Foto Verskaf

EERSTERIVIER se inwoners wil nie hê nog ’n kind se lyk moet soos dié van Orderick Lucas iewers opduik nie.

Daarom het die gemeenskap gou gespeel om die lewe van sy twee maande oue broertjie te red deur hul ma by die polisie aan te gee vir kinderverwaarlosing.

Die baba is Dinsdag uit Davideen Lucas se sorg geneem. Haar tweeling (7) is steeds in pleegsorg sedert die eenjarige Orderick in Maart laas jaar soek was. Davideen se oudste, ’n meisiekind, woon van kleins af by haar pa se mense.

Voordat Orderick se ontbinde lyk in ’n drein in Wittebolstraat gevind is, is Davideen opgesluit vir kinderverwaarlosing.

Sy’t toe volgehou sy het Orderick op 24 Maart in die sorg van Melvin Volkwyn, haar tjommie, gelaat het toe mense van die gemeen­skap haar oor ’n gesteelde foon aangerand het.

Volgens haar het Volkwyn gesê hy het die kind na haar ma toe geneem. Die kind het egter nooit by haar ma uitgekom nie.

Volkwyn loop hof vir die kind se moord en vir dwarsboming van die gereg.

Son het destyds berig Davideen het erken sy het voor haar kind se dood saam met Volkwyn dwelms gebruik, maar sy’t dié slegte gewoonte afgeleer en sy werk weer.

“Dit het nie lank gehou nie. Toe sy weer met haar dinge begin, is sy terug na die shack waar sy gewoon het. Toe ons weer sien, toe is sy weer swanger,” sê ’n inwoner.

TONEEL: Davideen Lucas word hier getroos toe Orderick se lyk uit die drein verwyder word. Foto: Jonathan Lestrade

Nog een sê hulle het gesien hoe die kind ook verwaarloos word en het dit by die polisie in Kleinvlei gaan aanmeld.

“Sowat twee weke terug is sy hier in die gemeenskap rondgejaag omdat sy weer ’n selfoon gesteel het.

Ondersoek

“Sy moes toe weer die kind vir random mense gee om te hou sodat sy kan weghardloop.”

Son het vertroulik verneem die babaseun is Dinsdagaand uit haar sorg verwyder.

Joshua Chigome, woordvoerder van die departement van maatskap­like ontwikkeling, sê: “Ons departement het ’n zero tolerance-aanslag wanneer dit by kindermishandeling en/of kinderverwaarlosing kom.

“Ons ondersoek nog die omstandighede rondom die voorval en sal meer besonderhede hê sodra die ondersoek afgehandel is.”

Die moordverhoor van Volkwyn begin volgende jaar in April in die Kaapse hooggeregshof.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters