Verlede maand
Inwoners ly in donkerte
Wag vir krag: Eskom het darem begin om straatligte in te sit.  ~ 

INWONERS van Spes Bona in Kalbaskraal is op die oorlogspad oor hulle nie krag het nie.

Een van die raadslede is selfs met die dood gedreig as daar nie krag ingesit word nie.

Rdl. Valery McQuire sê die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings het grond in Kalbaskraal beskikbaar gestel.

Daar is 136 erwe beskikbaar gestel vir mense om daar te gaan bly.

“Eskom belowe al van verlede jaar Augustus af om krag te kom insit, maar dit het nie gebeur nie.

“Ons en die Swartland-munisipaliteit word gedreig, maar dis nie die funksie van die munisipaliteit om krag in te sit nie. Eskom moet die krag insit en die provinsiale regering is in beheer van behuising,” sê McQuire.

Fozia Booysen, ’n wykskomiteelid, sê volgens Eskom het hulle net een kontrakteur vir Kalbaskraal, Chatsworth, Riverlands, Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes.

“Die grond is aan die mense gegee in Spes Bona, Kalbaskraal, en Eskom het gesê as 80 % van die grond bewoon word, sal hy krag insit,” sê Booysen. Maar dit bly als net beloftes.

Daar is waterpype en riool aangelê en toilette aangebring en mense het hulle eie sinkhuisies opgerig.

Een inwoner, Ronnie Hoorn (53), sê hulle wil nie goed afbrand om dienste te kry nie, maar hulle gaan betoog as hulle nie gehelp word nie.

Gewapen

“Hier is geen straatligte nie en dis baie donker in die nag. Skollies kom kruip nou hier weg as misdade gepleeg word.”

Ander inwoners sê die skollies is gewapen en misdaad word meer. Volgens hulle word hier moord gepleeg en gewapende rooftogte vind plaas.

Nog ’n inwoner, Paul Gerber, sê menslike nedersettings het hulle gecon om soontoe te trek.

“Ek het gevra of ons starter kits kan kry om ons huis op te sit, maar hulle wou dit nie gee nie. Waar ons voorheen gebly het, was beter as hier.

“Nou het ons ook nie eens krag nie. Hier is infrastruktuur en dit kan nie so moeilik wees om die krag te installeer nie.”

Gerber sê geld is deur human settlements aan die Swartland-munisipaliteit gegee. Maar volgens McQuire werk die munisipaliteit nie met die geld nie en is slegs daar om toe te sien dat alles vlot verloop.

Eskom het darem verlede week die proses begin om straatligte in te sit.

’n Woordvoerder van Eskom, Kyle Cookson, sê Eskom ondervind vertragings om krag hier in te sit.

“Die begroting is goedgekeur en die materiaal is gekry. Ongelukkig veroorsaak kontraktuele uitdagings die vertragings.”

Volgens hom behoort die kontrakteur einde Mei of begin Junie te begin werk.

Navrae

“Eskom vra verskoning vir die ongerief.”

Die departement van menslike nedersettings het Son se navrae verlede week gekry, maar nog nie geantwoord nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters