2 maande gelede
Inwoners is op van laities
plek van onrus: Pastoor Reginald Gesoond (links), John Samuels en Maurisa Leibrandt dra die gemeenskap se belange op die hart. Foto’s: Melinda Stuurman  ~ 

’N GROEP van ses laities terroriseer die gemeenskap van Lourensiapark in Somerset-Wes so dat hulle die reg in eie hande wil neem.

’n Pastoor is ook al reeds toegesluit oor hy dit nie meer kan vat nie.

Inwoners van dié klein gemeenskappie sê hulle is siek en sat van die laities wat hul lewe onplesierig maak.

Die seuns hang na be­wering by die winkel uit waar hulle dan moeilikheid soek met ander wat winkel toe kom.

Onlangs het daar tussen dié groep en ander inwoners ’n lelike rusie ontstaan wat in ’n messtekery geëindig het.

Euwels

John Samuels, die voor­sitter van die buurtwag in Lourensiapark, sê hierdie klein gemeenskap is nie gewoond aan dié soort geweld nie.

“Ons woon al sewe jaar hier. Hier was nog nooit een moord of enige ander vorm van ernstige geweld nie,” sê Samuels.

raadop: John Samuels, die voorsitter van die buurtwag, is moeg van sukkel met die laities.

Volgens hom voel die gemeenskap om die reg in eie hande te neem om die euwels uit te roei.

Hulle sê die probleem het begin toe daar ’n jaar gelede ’n Somaliër ’n huiswinkel oopgemaak het.

“Die laities het daar begin uithang en soek moeilikheid wanneer hulle onder die invloed van alkohol is.

“Ek kan nie meer my kinders winkel toe stuur nie, want dan moet ek iets ekstra stuur vir die laities wat daar rondhang en aanklop,” vertel Samuels.

Die pa sê hy is moeg vir die moeilikheidmakers.

Maurisa Leibrandt, ’n dagsorgmoeder, vertel: “Maandae kom die kindertjies in ’n toestand crèche toe.

“Hulle vertel dan net stories van hoe die mense baklei­ het die naweek.”

Leibrandt voel dit beïnvloed die klein kinders negatief.

Sy meen dis ’n klomp drop-outs wat ledig is.

Probleem

Leibrandt wil hê die gemeenskap moet hande vat en saamstaan om die probleme te pak.

Past. Reginald Gesoond sê die ouers van die jeug­diges is die probleem omdat hulle nie die kinders dissipline leer nie.

Die ouers cover op vir die kinders, meen Gesoond.

Gesoond is onlangs in hegtenis geneem toe hy een van die laities bygekom het met ’n kapsawel (wapen) nadat hulle twee inwoners gesteek het.

Dit het gebeur nadat van die inwoners sommer self met die groep seuns wou afreken.

Gesoond is een van vier inwoners wat gearresteer is. Hulle is Woensdag vrygelaat nadat die saak uitgeskop is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters