6 maande gelede
Inwoners eis krag
KRY WARM: Michael Waits, ’n lewerkankerlyer, suffer erg sonder elektrisiteit in sy plek.Foto’s: MURPHY ROBERTS  ~ 

ATLANTIS. – Inwoners van Kanonkop braak gal oor hulle steeds sonder krag sit.

Die woedende inwoners sê hul kragloosheid kom al sedert Oktober aan.

Hulle sê hulle vrae hieroor word met opgetrekte skouers begroet.

Christelda Moses (37) sê: “Op 29 Oktober is die 46 nuwe huiseienaars hand en mond belowe dat hulle slegs drie tot vier weke vir hul krag sal wag.

“Mense in nood vir hul huise het ingestem om in te trek – met die wete dat die krag sal volg.

“Min het ons geweet dat ons eintlik probleme vir onsself skep.”

Die weke het nou al drie maande geword.

Moses voeg by: “Nou raak dieselfde amptenaar onbeskof met ons as ons gaan vra wanneer kom die krag.”

Maria Scholtz sê meer mense het nou ingetrek en nou sukkel sowat 120 om die krag aangesit te kry.

“Die amptenaar het gesê die huise word afgebreek as mense nie intrek nie.”

Isabela du Preez meen hulle word nou soos diere op hok gehuisves.

Michael Waits, wat lewerkanker het, vertel hy moet saans buite sit weens die bedompigheid in die huis omdat daar geen ventilasie is nie.

Barbara Rass, die raadslid, sê sy was van die begin af daarteen gekant dat mense sonder elektrisiteit intrek.

“Ek is ongelukkig nie geken in die saak toe die huise oorhandig is nie.”

Gemaan

Grant Twigg, die mayco-lid vir stedelike bestuur en ontwikkeling in die Stad Kaapstad, het vroeër persoonlik inwoners verskoning gevra dat hulle huise sonder elektrisiteit gekry het.

Twigg voeg by hy’t die amptenare gemaan om hierdie probleem op te los. Hy sê hy sal volgende Donderdag weer met die inwoners vergader.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters