8 dae gelede
Ingeryg soos sardientjies
ontevrede: Die skoolhoof van die Laerskool Bergville, Aleem Abrahams, sê die WKOD kom spreek nie die kwessies aan nie.  ~ 

“ONS soek net die beste vir ons kinders.”

Só sê ouers en onnies van die Laerskool Bergville in Bishop Lavis.

Hulle dreig met meer protes-aksie nadat hulle gister tussen 07:00 en 09:00 by die skool se ingang gepicket het.

Volgens skoolhoof, Aleem Abrahams, het hy al aan die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) oor kwessies geskryf.

Die WKOD het egter nie aandag gegee aan die probleme soos oorbevolking in klasse en die veiligheid van leerders en onnies nie, sê hy.

oorbevolking: Dié klas van die Laerskool Bergville wat vir 35 leerders bedoel is, het meer as 72 leerders.Foto’s: melinda stuurman

Volgens Abrahams was die WKOD se reaksie op hulle versoek vir nog onnies dat die skool onnies moet kry wat vrywillig onderrig.

“Die departement wil hê ander mense moet verniet werk, maar hulle werk nie verniet nie,” sê hy.

“Ons is gedwing om meer as 72 leerders in te druk in ’n klas wat vir 35 leerders bedoel is.

“Kwaliteit-onderrig kan mos nie so plaasvind nie.

“Al wat ons vra, is: Gee vir ons ekstra onderwysers.

“Enige tyd word hier geskiet. Al wat ons vra, is gee ons ’n sekuriteitswag wat kan seker maak ons kinders bly veilig tydens skoolure.”

Abrahams voeg by: “Ons het net ’n skoonmaker. Dié skoonmaker moet elke dag 20 klaskamers skoonmaak.

“Hy moet ook al die toilette skoonmaak, die skoolterrein skoonmaak en dan moet hy ook sekuriteitswag wees.”

Die Bishop Lavis Action Committee (Blac) het die pick­et gereël.

’n Organiseerder van Blac, AK Matthews, sê: “Sommige van ons kinders los skool voor hulle gr. 8 bereik.

“Waarheen gaan hulle? Hulle word gangsters. Die situasie hier by Bergville is dieselfde by elke skool in ’n werkersklas-area.”

Volgens hom moet die WKOD binne 48 uur op hulle eise reageer, anders gaan daar meer protes­aksie volg. Ander skole wat join, is nie uitgesluit nie.

Abrahams het ’n memorandum van eise aan ’n WKOD-beampte, Wayne Hendricks, oorhandig.

Hendricks sê: “Ek sal daarna omsien dat die eise aangespreek word.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters