4 maande gelede
Indringer vat ma uit
Moordtoneel: Basson (48) se lyk word uit haar huis in Uitsig gedra nadat sy in die kop geskiet is.Foto’s: LEON KNIPE  ~ 

NOG ’n vrou van Uitsig is Maandagaand in haar huis doodgeskiet.

Theresa Basson (48) was in haar voorkamer in Cassia-weg toe sy omstreeks 20:00 in die kop geskiet is. Sy is op die toneel dood.

Basson en haar dogter het in die voorkamer gesit toe ’n indringer binnekom, ’n vuurwapen uitruk en haar een keer in die kop skiet.

Die skieter het daarna van die toneel gevlug. Die dogter is nie in die voorval gewond nie.

Glenda Fortuin (57) en Ellis Loft, ook van Uitsig, is van die vele slagoffers wat die laaste tyd in bendeverwante skietery afgemaai is.

Fortuin het vroeg verlede maand saam met haar kleinkind in hulle voorkamer in Erica-weg gesit toe die verdagtes by haar huis inkom.

Sy is ten aanskoue van haar kleinkind drie keer in die kop geskiet en is op die toneel dood.

Laas maand is Loft (57) op die hoek van Cassiaweg en Carnation-laan in Uitsig geskiet.

Sy is in die bors getref en het dieselfde aand in die Elsiesrivier-daghospitaal afgesterf.

Sewe vroue is na verneem word sedert die begin van die jaar in Uitsig in skietvoorvalle dood.

Volgens Dawie van Wyk, voorsitter van die polisiëringsforum in Ravensmead is die skietery bendeverwant. Van Wyk sê: “Dit was ’n hele rukkie stil in Uitsig en Ravensmead.

“Nou skielik skiet hulle weer. Wanneer dit so stil is, raak mense skoon bekommerd oor wat broei.

Hoek

“Die mense is te bang om te praat oor wie vir die skietery verantwoordelik is.

“Dit is gewoonlik on­skuldige mense wat in die slag bly.”

  • Sondagaand is ’n man in Ravensmead doodgeskiet.

Die 40-jarige man is omstreeks 22:30 op die hoek van Pinedene- en Parkdeneweg aangeval. Die gewonde man is na die hospitaal geneem, maar het op pad soontoe beswyk.

Volgens die polisie is niemand nog vir die moorde in hegtenis geneem nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters