15 dae gelede
In pad gevat
HARTSEER: Die oorslagoffer se ma, Cecilia Stevens, sê haar klong was die oggend voor sy dood half stil.  ~ Peter Abrahams

“AS EK een ding aan my seun kon gesê het voordat hy doodgeskiet is, sou ek hom gesê het hoe lief ek vir hom is.”

Met trane wat nie ophou rol nie vertel Cecilia Stevens haar seun se vermeende skieters het verby haar geloop voordat hulle die gun op hom gerig het.

“Hulle het albei maskers gedra, en al wat ek kon sien, is hul oë.”

Stevens se seun, Sebas­tian “Bassie” Williams (46), is gister koelbloedig afgemaai in Sydney Goldblattstraat in New Woodlands, Mitchells Plain.

Op die toneel was ’n groot polisieteenwoordigheid.

Nuuskieriges het gou van social distancing vergeet en saamgedrom terwyl lede van die anti-gang unit die area vir leidrade begin fynkam het.

Stevens sê sy was op pad winkel toe toe die twee verby haar gestap en haar dopgehou het.

’n Paar minute nadat sy weer by haar huis ingeloop het, het sy die skote gehoor klap.

Gehardloop

“Ek het nie geweet dis vir hom nie, maar toe kom sê iemand my dat hulle Bassie geskiet het en dat daar twee jongens verby die persoon gehardloop het met dieselfde klere aan soos wat ek gesien het.”

Inwoners vertel omtrent 10 skote het afgegaan.

’n Omstander vertel oor die slagoffer: “Hy was daai ou wat altyd by die winkel gesit en vir ’n R2 aangeklop het. Almal ken hom.”

Die omstander vertel dat Bassie jare gelede met die verkeerde goed deurmekaar was, maar heel bedaar het.

Stevens bevestig dié stelling. Sy sê haar seun het wel ’n Dixie-tjappie gedra, maar sy as ma weet hy het sy dinge gestop.

“Hulle het al probeer om hom te skiet, maar hy het weggekom.

“Hy moes ook sy job los omdat hy in die area gewerk het en dit was ’n gevaar.”

Sy vertel van haar laaste oomblikke saam met haar seun.

“Hy was vreemd vanoggend.

“Gewoonlik gesels ons in die oggend, maar vanoggend het hy toilet toe gegaan en op die couch gaan lê. Hy het moeg gelyk.”

’n Bron naby aan die ondersoek sê ’n onskuldige vrou is in dieselfde voorval gewond.

Die vrou het glo langs Bassie gesit toe die skote geklap het.

Die bron sê die vrou het oorleef, al is sy in die kop getref.

’n Gemeenskapswerker wat een van die eerste mense op die toneel was, sê sy span het probeer om Bassie sowel as die vrou aan die lewe te hou.

Erger

“Hy het ná 10 minute gesterf en sy is hospitaal toe geneem.”

Die werker sê tydens die lockdown het dinge in hul area het erger geraak omdat die buurtwagte en gemeenskap-sekuriteitslede nie nou toegelaat word om die area te monitor nie. Hy sê asof die virus nie erg genoeg is nie, “het ons steeds dié gevaar op ons strate.

“Hulle skiet soos hulle wil, amper elke week.

“Ons gemeenskap is nie net onveilig weens die virus nie, dis ook as gevolg van die gangsters onveilig.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters