27 dae gelede
KYK: Iets nie reg met baba se sterfte
ROMECIA, ERIN
HARTSEER: Romecia Adonis word deur haar familie ondersteun. Hier is sy by Lena Petersen, haar ouma, met die klere waarin hulle klein Erin gaan begrawe.  ~ JONATHAN LESTRADE

SY KAN haar baby nog ruik en op die bed sien lê – en al lewe sy nie meer nie, kan sy haar kind hoor huil ...

Vir Romecia Adonis (20), ’n jong ma wat laas Sondag haar drie weke oue baba aan die dood moes afstaan, is dit onwerklik dat haar baba­dogtertjie, Erin, nie meer met haar is nie.

Erin is ’n week gelede by die Eersterivier-daghospitaal dood verklaar.

“Ek het so baie planne vir haar gehad... nou is alles daarmee heen.

“Dit voel asof iets uit my geruk is. Dit is alles te veel,” vertel die bedroefde mammie huilend.

Adonis sê voor haar dood daar was geen teken dat iets met haar dogter fout was nie, behalwe daai dag voordat sy dood verklaar is.

Nagmerrie

“Ek het geen komplikasies gehad tydens my swangerskap nie en ses dae ná haar geboorte het ons nog kliniek toe gegaan vir ’n check-up en sy was gesond,” sê sy.

Adonis se nagmerrie het Saterdagoggend 19 September begin toe sy sien Erin se oë en mond trek blou.

“Haar asem het weggeraak en dit is toe my niggie mond-tot-mond-asemhaling begin doen het en Erin het weer bygekom.

“Ons het die ambulans geskakel en hulle het ons kom optel en hospitaal toe geneem en ’n dokter het ons gehelp,” sê Adonis.

Adonis meen die dokter het Erin nie reg ondersoek nie.

Ontslaan

“Hy het haar hartklop gevat en haar asemhaling gemonitor, maar volgens my het hy haar nie reg behandel nie. Ek kon die blou om haar oë sien.

“As ek dit kon sien, hoe kon hy dit nie sien nie?

“Hy het net vir my gesê sy het ’n probleem met haar bors en dat haar neusie toe is,” sê sy.

Sy sê die dokter het aan haar gesê om iets te kry om die mucus in Erin se neus te verwyder voordat hy hulle ontslaan het.

“Ons het nie geld gehad om dit te koop nie en hy het vir my ’n brief gegee om iets by die chemist te kry vir Erin.”

Hulle het huis toe gegaan en Erin was orrait en het heeldag geslaap, maar het glad nie bors gedrink nie en regdeur die nag geslaap.

Adonis sê die Sondag­oggend het Erin egter weer tekens gewys dat daar iets fout is.

“Ek wou haar borsvoed, toe ek sien sy het weer blou getrek en ek spring uit die kooi uit en bid vir die Here om nie my kind te neem nie, sy is nog te klein,” sê sy.

Adonis sê haar pa en uncle het met hulle na die hospitaal gejaag.

“By die hospitaal het ’n nurse haar geneem nadat ek vir haar gesê het wat fout is. Toe ek die kombers oopmaak, toe sien ek daar kom snot by haar neus en skuim by haar mond uit.

“Hulle het haar ondersoek en het niks vir my gesê nie. Ek het net daar gesit en wag, maar ek kon in my hart voel my kind is klaar dood,” sê sy.

Terwyl sy daar sit en wag, het ’n nurse na haar kom sê sy moet nie worry nie, want daar is darem nog ’n hartklop.

Maar ná ’n tydjie kom dié nurse en vra vir haar of sy weet wat dit is wanneer iemand breindood is.

“Sy het vir my gesê my kind is breindood en dat dit net die masjiene is wat haar aan die lewe hou.

“Die dokter het ons toe ingeroep en bevestig sy is dood en gesê dat hulle X-rays geneem en gesien het sy het ’n longinfeksie gehad.”

Sy meen as hulle dit die Saterdag opgetel het, kon hulle haar kind dalk red.

“Ek voel meer kon gedoen geword het. Ek voel hulle was nalatig met my kind,” sê sy.

Sithembiso Magubane, ’n Wes-Kaapse gesondheidswoordvoerder, sê by Erin se aanvanklike besoek by die daghospitaal is alle nodige waarnemings gedoen en daar was geen abnormale bevindings van die hart of longe nie.

“Die dokter het aan die moeder verduidelik hoe om die baba se neus tuis skoon te maak met soutoplossing en op watter waarskuwingstekens om te let.”

Magubane sê die ma is versoek om onmiddellik sorg te soek as sy enige probleme met die baba se gesondheid het.

Afhanklik

“Erin is Sondag na die Eersterivier-hospitaal teruggebring en is dadelik na omgesien. Ná ’n lang resussitasie is ’n terugkeer van sirkulasie gevind, maar sy was afhanklik van die ventilator.

“Ná herhaalde neurologiese ondersoeke sonder ver­betering is die baba op versoek van die ma en ouma van die ventilator ontkoppel en is kort daarna oorlede.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters