25 dae gelede
Van Boven 'het hulp gehad’
OPPIT: Lt.kol Adrian Pretorius (regs), die ondersoekbeampte in die Jesse Hess-moord, werk nog kliphard aan die saak.  ~ Peter Abrahams

’N TWEEDE verdagte in die Jesse Hess-moordsaak word heel moontlik Dinsdag vasgetrek.

Nadat Jesse (19) se kleinneef David van Boven (31) Donderdag ná meer as twee maande se ondersoekwerk gearresteer is, het dit aan die lig gekom hy het hulp gehad toe Jesse en haar oupa Chris Lategan na bewering in hulle flat in Parow vermoor het.

Lategan is vasgebind op die badkamervloer aangetref.

Jesse het poedelnakend op die bed gelê. Daar is bevind sy is verkrag.

Semen is op die toneel gekry en die polisie wag nog op die DNS-uitslae.

Die ondersoekspan werk nou kliphard om die tweede verdagte vas te trek nadat hulle inligting ontvang het dat Van Boven nie op daardie noodlottige dag alleen in die flat was nie.

’n Bron na aan die ondersoek sê hulle volg nou alle leidrade op. Daar word verwag dat alles Woensdag in die Bellville Landdroshof sal uitkom wanneer Van Boven vir die eerste keer in verband met die voorval verskyn.

Slagoffer

Hy het reeds Vrydag in die Wynberg Landdroshof verskyn op aanklag van verkragting, roof met verswarende omstandighede en poging tot moord.

Dié verskyning hou verband met die verkragting van ’n meisie (16) in Hanover Park laas Dinsdag.

Die slagoffer het Van Boven aan die polisie uitgewys. Sy is familie van sy girlfriend by wie hulle in Hanover Park gewoon het.

Hy het toe na een van sy ander girlfriends in Struisbaai gevlug, waar die polisie hom gearresteer het.

’n Bron na aan die ondersoek het aan Son bevestig Van Boven was lank die hoofverdagte in die saak.

Die ingeligte sê hulle moes wag om hom te arresteer totdat hulle genoegsame bewyse gehad het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters