13 dae gelede
Iemand anders in ma se graf
Wat gaan aan? Ian Adams sê dit was ’n baie traumatiese ervaring wat seermaak.  ~ Verskaf

DIE familie wou net hê hul ma en pa se finale rusplek moet by mekaar­ wees.

Dit het amper nie gebeur nie. Die familie het die grootste skok van hul lewe gekry toe hulle by die begraafplaas­ kom.

Iemand anders het reeds bo-op hul pa se graf gelê toe hulle daar aankom.

Die Adams-egpaar is maande ná mekaar oorlede.

Dennis Adams het in Januarie­ afgesterf en sy vrou, Valerie, in Augustus.

Ian Adams (42), hul seun, verduidelik aan Son hulle het ’n graf by die Klip Road-begraafplaas in Grassy Park gekoop.

Adams, van Lotusrivier,­ verduidelik: “Ons weet nie hoe of wie nie, maar toe ons met my ma se kis by die graf kom, is ons gesê om te wag.

“Dis tóé dat ons uitvind iemand­ is op daai dag bo-op my pa begrawe.”

Die familie moes met die regte kis wag sodat die graf heropen kon word.

Die verkeerde kis is toe uitgehaal en die graf is weer skoongemaak voordat die begrafnis kon aangaan.

“Dis mos nie reg nie! Die mense het klaar gehuil en gemourn en toe word die gat weer oopgemaak.

“Ek weet nie wat hulle met daai persoon se kis gemaak het nie, maar ek hoop die ander familie is ingelig. Dit maak ook seer.”

Adams voeg by hy het al by die Stad navrae oor die voorval gedoen, maar hy het geen terugvoer gekry nie.

“Nie eens ’n sorry nie. Ek meen, is dit wat gedoen is ooit legal?

“Dis genoeg dat vandalisme gebeur, maar om iemand anders op die verkeerde persoon te begrawe en weer die gat oop te maak is verkeerd op ’n ander level!”

Adams sê hy sal eers kan rus wanneer hy antwoorde kry en weet dat die ander familie ook ingelig is.

Fout

Zahid Badroodien, die Stad se mayco-lid vir gemeenskapsdienste­ en gesondheid­, bevestig die departement van parke en ontspanning is bewus van die voorval.

Badroodien sê ’n ondersoek is onderweg om uit te vind wat fout gegaan het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters