6 dae gelede
Icosa point na DA oor eleksie
dikgang
Onveilig: Dikgang Moseneke, afgetrede adjunkhoofregter, beveel aan die munisipale verkiesings moet eerder uitgestel word om Covid-19-verwante sterfgevalle te verhoed  ~ .Foto: NEWS24

DIS “soos die doodstraf” onder die DA se beheer.

Só beskryf Icosa die aanbeveling dat vanjaar se munisipale verkiesings tot volgende jaar uitgestel moet word.

Icosa se uitspraak volg nadat die afge­trede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke se ondersoek bevind het ’n vrye en regverdige verkiesing is nie onder die huidige toestande van die pandemie moontlik nie.

Moseneke het dié aanbeveling met die Onafhank­like Verkiesingskommissie (OVK) gedeel wat hom gevra het om vas te stel of die geskeduleerde plaaslike verkiesings van 27 Oktober eerder tot volgende jaar uitgestel moet word.

Die verkiesing moet egter voor Maart 2022 plaasvind, raai Moseneke verder aan.

Die OVK moet nou die finale besluit neem.

Dawid Kamfer, die Wes-Kaapse Icosa-voorsitter, sê egter dit maak nie sin om die verkiesings uit te stel nie. Volgens hom is dié party al sewe jaar oorgehaal vir die verkiesings.

Kamfer sê hy besef watter gevaar Covid-19 inhou.

Hy sê egter daar bestaan ’n groter pandemie in die vorm van armoede.

“Daarom sê Icosa weens die swaarkry van ons mense stem ons nie saam met die uitstel van die verkiesings nie,” voeg hy by.

“Ons weet nie hoe lank Covid nog gaan aanhou nie.

“Wat gebeur dan as die gevalle weer in Februarie 2022 styg?

“Daarom sê ek die uitstel van die verkiesings is soos die doodstraf vir arm mense onder die DA se beheer in die Wes-Kaap.

“Die uitstel van die verkiesings sal nie ryk mense raak nie. Dit raak meestal armes, want die mense wat by bedrog betrokke is, sal daarmee aangaan, want dié uitstel is amper soos ’n verlenging van hul vuil dade.

“Die armste van die armes ly weens ’n gebrek aan dienslewering. Werkloosheid is aan die orde van die dag.”

Bestudeer

Volgens hom is dit Icosa se pleidooi dat die verkiesings op 27 Oktober moet voortgaan.

Siviwe Gwarube, ’n DA-woordvoerder, sê dié party glo ook die plaaslike verkiesings kan binne die Covid-protokolle voortgaan.

Sy sê: “Die DA sal die Moseneke-verslag in die lig van die grondwetlike implikasies daarvan bestudeer, en ons volgende stappe binnekort kommunikeer.”

Lerumo Kalako, die Wes-Kaapse ANC-sameroeper, sê hulle verwelkom die besluit om die munisipale verkiesings uit te stel in die lig van die gevaarlike Covid-19-pandemie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters