5 dae gelede
’Hy’t my nooit geantwoord’
beskuldigde: Ruiters, dié keer met haar hande van haar gesig af, is Jeremiah Ruiters se ma.  ~ 

DIE laaste keer dat ’n buurman Jeremiah Ruiters gesien het, was hy soos ’n baba-kangaroe toegevou in Ameerudien Peters se tracksuit-top.

Ure later het die einste buurman se vrou hom vertel Jeremiah is dood.

Die buurman, Alwie Japie (47), het gister in die hooggeregshof getuig oor die dag dat klein Jere­miah oorlede is en oor wat hy van die spesifieke dag kan onthou.

Jeremiah is op 12 Junie 2017 in Factreton se kliniek dood verklaar nadat Peters met hom daar opgedaag het.

Peters en Jeremiah se ma, Abigail Ruiters, staan tereg vir die moord op die kindjie.

Hulle staan ook tereg vir die mishandeling van sy twee ouer sussies, Ruiters se dogters.

Japie en sy familie het in ’n wendyhuis op dieselfde jaart as Ruiters gewoon.

Ruiters en Peters het in haar eie wendyhuis gebly. Haar ouers woon op dieselfde perseel.

Japie en Ruiters se wendy­huise was sowat ’n meter van mekaar weg.

Japie het getuig hy is werkloos omdat hy gestremd is en voorheen aangerand is. Hy was dus op 12 Junie 2017 by die huis.

“Ek was binne my wendy toe Ameerudien met die kind verbyhardloop.

“Die kind was binne sy top, soos hy hom gewoonlik gedra het.

“Dis hoe hy gewoonlik die kind gedra het.

“Binne sy jas, opgezip,” het Japie getuig.

Soos Peters verbygehardloop het, het Japie gevra wat aangaan.

“Ek het hom gevra wat verkeerd is, maar hy het my nie antwoord gegee nie,” het hy getuig.

Onthou

Japie het ook gesê sy vrou, Margaret Japie, het ure nadat Peters met die kind daar weg is, vir hom kom vertel klein Jeremiah is dood.

“Ek kan nie presies onthou hoe lank dit was nadat Ameerudien met die kind daar weg is nie, maar dit was ’n tydjie nadat hy weg was dat my vrou my kom vertel het,” het hy getuig.

Adv. Maria Marshall, vir die staat, het Japie gevra of hy geweet het van enige ander voorval met betrekking tot Jeremiah.

“Ek weet van sy vinger wat seer was, en sy skouer.

“Soos ek verstaan het, het hy geval,” het Japie geantwoord.

Die saak gaan vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters