8 maande gelede
‘Hy was nog opgewonde’
Matroosfontein: ’n Familielid (vrou in wit) van Nigel Ryneveldt identifiseer gister sy lyk op die veld waar hy gevind is. Foto’s: PETER ABRAHAMS  ~ 

HY WAS alombekend as Duiwel.

Nou is daar vrae oor hoe Duiwel dan dood is.

Sy familie sê gister baie sad dat hulle eerder verkies het om hom op sy regte naam, Nigel Ryneveldt, te noem.

Ryneveldt (30) van Epping Forest is Woensdagmiddag op die Valhallah-brug dood aangetref met ’n skietwond in die kop.

Ryneveldt was laas by sy auntie Katy Gradwell (59) se huis in Rushy-singel om met sy nuwe ID-kaart te gaan brag.

Gradwell vertel gister: “Hy was so excited om vir ons die kaart te wys. Hy het gesê dat hy nou weer werk kan soek oor hy die kaart het. Nou is sy droom daarmee heen.”

Sy sê Ryneveldt het altyd by haar ’n draai kom maak om hallo te sê of om iets met haar te deel.

“Hy het net vir ons die kaart gewys en nog gesê hy is op pad na sy meisie toe in White City waar hy saam met haar gewoon het.

“Ons het nie verwag dat dit die laaste keer sal wees dat ons hom sou sien nie,” sê sy gebroke auntie.

Die vermoede bestaan dat Ryneveldt in ’n taxi was en met twee mense gestry het. Toe stop die taxi in Valhallaweg op die brug.

Ryneveldt en die twee mense met wie hy gestry het, het vermoedelik uit die taxi geklim en langs die brug af gestap.

Mense het drie skote hoor afgaan en Ryneveldt se liggaam is daar tussen die vullis en sand gevind.

Gradwell sê hulle weet nie wat presies gebeur het nie, maar toe hulle op die toneel kom, het dit gelyk asof Ryneveldt en die onbekende mense in die veld gestoei het.

“Ons vermoed hulle het hom eers behoorlik aangerand en toe geskiet,” sê sy.

Toe Son sy auntie vra oor sy bynaam, Duiwel, het sy nie weggesteek dat hy al in die tronk was nie.

“Ek sal eerlik wees. Hy was nie ’n engel nie. Hy het sy foute gehad.

“Alhoewel hy in ’n bende in die tronk was, het hy nie met bendes op straat gemeng nie.

“Hy het nooit moeilikheid met mense gesoek nie.

“Ons is onseker wie dit aan hom sou doen. As mense weet, moet hulle praat,” sê Gradwell.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het die moord bevestig.

“Omstandighede rondom hierdie voorval word tans ondersoek,” het sy gesê.

Volgens Rwexana word ’n saak van moord deur die Elsiesrivier-polisie ondersoek ná ’n skietvoorval wat op 11 April om 16:45 op die hoek van Emms- en Mountain-weg in Matroosfontein plaasgevind het.

“Luidens verslae het die polisie by hul aankoms ’n lyk van ’n man met ’n skietwond gevind,” het sy gesê.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters