Verlede maand
KYK: ‘Hy was nederig’
ONTHOU HOM: Die Kinnears het ’n vertoonhoekie in hul leefarea ingerig vir hul pa se polisie-items.  ~ Jonathan Lestrade

“ONS het altyd geweet my man was ’n briljante speurder, want ons het geweet van die opofferings wat hy gemaak het.

“Dit is net jammer dat die res van die land dit nou eers en deur sy dood moes leer.”

Só het Nicolette Kinnear, vrou van die vermoorde lt.kol. Charl Kinnear, speurhoof van die teenbende-eenheid, gister by hul huis in Bishop Lavis aan Son vertel.

Die speurhoof se seuns, Carlisle (24) en Casleigh (19), en hul ma het Vrydag die hoof van hul huis verloor toe hy enkele meters van sy huis af doodgeskiet is.

Die Kinnear-egpaar woon die afgelope 27 jaar in die buurt waarin hulle albei grootgeword het.

“Ons was 36 jaar saam en het mekaar goed verstaan, al het hy so ’n droë sin vir humor gehad,” vertel Nicolette met ’n smile.

Waaksaam

“My man was altyd in ’n ondersoekspan van ’n spe­cial eenheid. Met een van die seuns se verjaardae moes ons in die middel van die vieringe oppak, want hy moes na ’n toneel toe.

“Ons was dit gewoond, want ons het sy werk verstaan. Ons was ook altyd voorbereid vir die ergste.”

Sy sê haar kinders het ook nie tienerjare gehad nie.

“Hulle was bewus van die implikasies van hul pa se werk. Ons het altyd ’n veiligheidsplan gehad vir enige situasie. Toe daar mense met ’n handgranaat voor ons deur gevang is, was ons ekstra waaksaam.”

Carlisle sê dit het nog nie ingesink dat sy pa dood is nie. “Hy was gereeld weg vir werk, soms tot drie weke.

“As hy wel hier was, het ons geweet wanneer om hom net op sy eie te los.

“As hy inkom en vra vir ’n koppie tee, kon ’n mens nog ’n conversation begin. Maar as hy die dag inkom en sy eie tee maak en sommer begin opwas, het jy geweet dis een van daai dae. Dan los ons hom.

“As ek net dink ek sal nie weer vir hom ’n koppie tee kan maak nie...”

BEDROEF: Nicolette Kinnear, die speurhoof se weduwee, sê haar briljante man was altyd onselfsugtig en het sy lewe vir sy werk gegee. Foto: Jonathan Lestrade

Casleigh sê hy is nie kwaad vir die cops oor hulle nie daar was toe sy pa hulle nodig gehad het nie.

“Ek is net baie teleurgesteld en voel hulle het ons in die steek gelaat.”

Nicolette sê haar man was nederig, onselfsugtig en vrygewig. “Sy fight was vir die gemeenskap. Dit was vir hom belangrik dat die kinders en jong mense in Bishop Lavis rolmodelle in hul eie omgewing moes sien.

“Ons hoor nou by sy kollegas dat hy baie van my en die boys by die werk gepraat het. Ons moes weer altyd hoor van die victims se families wat moet closure kry.

“Selfs adv. Pete Mihalik wat gesê het my man dra cheap skoene, het by sy onbaatsugtigheid gebaat. Toe Mihalik vermoor is, het my man dag en nag gewerk om seker te maak die suspects word aangekeer.”

Gefaal

Nicolette en haar kinders is nie beïndruk met die polisie- en media-aandag wat haar man se dood nou kry nie. “Ons weet hulle het my man gefaal. Ons wou net hê hulle moes dit erken.

“As dit van my en my kinders afgehang het, sou ons wou hê sy kollegas by die teenbende-eenheid moet sy moord ondersoek en nie die Valke nie. Met die liefde wat hulle vir my man het, sal hulle meer en vinnige resultate kry.”

BETER DAE: Die Kinnear-gesin in gelukkiger tye.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters