2 maande gelede
Hy was ‘meer as polisieman’
Gewilde Kaptein: Lucas Kock was geliefd onder sy familie en kollegas.  ~ Jonathan Lestrade

DAAR is min soos hy.

Só beskryf ’n inwoner van Ravensmead kapt. Lucas Kock (52) op dié geliefde polisiebeampte se gedenkdiens.

Familie, vriende, kollegas en inwoners was Dinsdagmiddag voor die Ravensmead- polisiestasie byeen om aan Kock hulde te bring.

Kock is op 12 Augustus weens Covid-19 oorlede.

Ucharna Kordom (43), ’n inwoner, sê Kock was vir haar ’n vriend, mentor en leier.

“Daar is nie woorde om hom te beskryf nie. Hy was meer as ’n polisieman.

“Hy was ’n hartsman wat geleef het vir die gemeenskap.

“Ek weet nie of daar ooit weer iemand soos hy sal wees nie.

“Ek was bevoorreg om onder hom te werk toe ek ’n reservis was.

“Hy het my bygestaan toe ek van die pad af dwaal en het my weer hoop gegee. Daar is rêrig baie min soos hy,” sê Kordom.

Kock het 31 jaar by die Ravensmead-polisiestasie gewerk en Yvonne Albertyn (75), wat oorkant die polisiestasie woon, sê sy het hom gereeld gesien en met hom gepraat.

“Hy was ’n goeie man en ’n goeie polisieman. Hy het gewerk vir sy gemeenskap.

“Ek het hom gereeld gesien.

“Dan sê ek hy moet huis toe gaan. Dan sê hy nee, hy moet werk, want die gemeenskap het hom nodig.

“Ek gaan hom baie mis,” sê sy.

Hartseer: Gertrude Skermand sê Kock was ’n goeie vriend van haar en sy sal baie na hom verlang.

Johannes Bastian, voorsitter van Ravensmead se gemeenskapspolisiëringsforum, sê dit was ’n plesier en ’n eer om iemand soos Kock te ken.

“Hy was die laaste tyd baie siek, maar hy was by die werk.

“Hy het gewerk tot drie weke voordat hy oorlede is. Dit was die tipe persoon wat hy was.

Suksesse

“Hy het altyd die ekstra myl gestap.

“Baie dae sal die gemeenskap nie sy suksesse ken nie.

“Maar hy en sy span het net so ’n paar maande terug in ’n week op ses vuurwapens beslag gelê.

“Hy het ook die polisie verantwoordelik gehou en het nie geskroom om sy kolleges aan te spreek nie.

“Hy was rêrig meer as net ’n polisiebeampte.”

Groot verlies: Yvonne Albertyn (regs) troos Ucharna Kordom.

Hy sê die lede van die gemeenskapspolisiërings­forum gaan Kock mis en is dankbaar vir alles wat hy altyd vir die gemeenskap gedoen het.

“Ek is glad nie skaam om hom te prys nie omdat hy altyd so baie vir die gemeenskap beteken het,” voeg Bastian by.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters