Verlede maand
Hy spring dood se kloue vry
OU WONDE: Shaygan Simon se ouers, Damian Jantjies en Simone Simon, by die drein waar húl seuntjie in 2019 ingeval het.  ~ Peter Abrahams

’N GR. R-SEUN van Dennemere, Blackheath, het die dood vrygespring toe hy Maandag in ’n oop stormwaterdrein geval het.

Die vyfjarige Godwin Lechet sit egter met ’n gekraakte skedel en is erg nog getraumatiseerd, vertel sy mammie, Rozel Lechet.

“Ek en my ma, broer, niggie en Godwin het van die Blue Downs-landdroshof af huis toe gestap.

“Gewoonlik loop Godwin speel-speel agter ons aan, maar die sypaadjie langs Albert Philanderweg is smal, toe laat ek hom voor loop.”

Lechet sê sy wou nog vir Godwin waarsku om uit te kyk vir die oop drein, toe is dit te laat.

“Alles het so vinnig gebeur. Een oomblik skreeu ek nog pasop, toe val hy in die drein. Hy het eers sy ken aan die kant van die drein gekap, toe val hy. Ek het dadelik ingespring. My kind het stil gelê. Ek was so bang.”

Lechet sê omstanders het gehelp om hulle uit te haal.

“Toe hy eers uit die drein is, het hy aanhoudend gehuil. Hy het ’n knop aan die agterkant van sy kop gehad, want hy het op die stormwaterpyp geval. Gelukkig het sy kop nie teen die concrete in die drein gekap nie.”

Swelling

Sy sê Godwin kon nie op sy voete staan nie.

Hulle het hom na ’n dokter geneem. Die dokter het hulle na die Eersterivier-hospitaal verwys. En van dáár is moes hulle na die Rooi Kruis-kinderhospitaal geneem.

“Hy het twee kop-scans gehad. Sy skedel is gekraak en daar is swelling op sy brein. Ons moet Maandag teruggaan. Die dokter wil kyk of daar bloeding is, maar hulle sal kan sien as die swelling weg is.”

KAP TOE: Godwin se ouers het die drein met ’n Vibracrete slab toegemaak. Foto: Peter Abrahams

Volgens Lechet het Godwin se gedrag intussen verander.

“Dinsdagaand het hy op die bed gestaan en sy broek losgemaak en op die bed gepee, so asof hy in die toilet staan. Ander tye herhaal hy alles wat ons sê.”

Lechet se man, Garthwin, het Maandagaand ’n Vibracrete slab oor die oop drein gaan neerlê.

Lechet sê sy is by twee polisiekantore weggewys.

“Ek wil ’n saak maak teen die Stad Kaapstad. Nie omdat ek geld soek nie, maar sodat hulle die dreine kan toemaak. Die drein is al geruime tyd so oop. My kind was lucky. Die volgende kind is dalk nie.”

Die Stad Kaapstad, het by navraag gesê inwoners wat ’n besering opgedoen het, moet ’n eisvorm vir vergoeding by die Stad se afdeling vir versekeringseise inhandig. Die Stad het 'n ondersoek oor die voorval van stapel gestuur.

SEER: Godwin het sy ken gekap toe hy in die drein val. Foto: Peter Abrahams

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters