7 maande gelede
Hy is ’n foodie van formaat
Mmmm: Imtiyaaz Hart glo kos moet ook heerlik lyk.  ~ Melinda Stuurman

HY IS 'n towenaar in die kombuis.

Voordat jy 'n proesel van sy kos vat, laat die geure jou mond water omdat jy sy kosse, wat kunswerke is, klaar met die oë geëet het.

Die kosman Imtiyaaz Hart is ’n saggeaarde man, half skamerig.

Hart laat sy kos eerder praat wanneer sy woorde min is.

As hy in die kombuis staan, kom ’n heel ander man na vore.

Die 29-jarige foodie maak nie net kos nie, hy maak kreatiewe en interessante etes wat die smaakknoppies op jou tong laat dans.

Dié voltydse media-koördineerder is nie jou gewone foodie wat uit ’n resepteboek werk nie: Hy speel rond met kleur en geur en laat die speserye die praatwerk doen.

Die passie vir kos het jare gelede begin toe Hart nog ’n tiener was en saam met sy ouma in haar kombuis gekook en gebak het.

Hy vertel: “My ouma is rêrig my grootste inspirasie vir die soort kos wat ek maak.

“Ek het (haar resepte) met my oë en palate gesteel, en my eie spin daarop begin sit.”

IN SY ELEMENT: In die kombuis is Imtiyaaz Hart koning. Dis soos ’n laboratorium waar hy eksperimenteer met nuwe idees.

Hart was 21 jaar oud toe hy besluit het om uit sy tuisstad, Port Elizabeth, na Kaapstad te trek.

Hy sê: “Ek het glad nie ’n keuse gehad oor wie vir my gaan kos maak nie en só het my passie vir kosmaak groter geraak.”

Danksy YouTube tutorials en Facebook video’s het hy besef hy is rêrig lief vir kosmaak.

Ervaring

Hy is só lief daarvoor dat hy verlede jaar deelgeneem het aan die gewilde TV-program Come Dine With Me en dit gewen het.

Hart sê: “Dit was ’n amazing ervaring en het my die kans gegee om mense te wys wat ek kan doen.

“Dit was ook ’n geleentheid om ander foodies te ontmoet en met hulle die passie vir kosmaak te deel.”

ITALIAANS OPPIE MENU: Dié lasagne cups is een van Imtiyaaz Hart se gunsteling-skeppings.

Hart sê met sy unieke, moderne twist op ou resepte wil hy eendag sy eie tapas restaurant & cocktail bar oopmaak.

Hy sê: “Dis beslis die groot plan vir my toekoms. Ek wil local kosse vat en mense dieselfde flavours gee wat hulle geniet, maar met ’n onverwagse twist.”

Intussen sien hy uit na sy volgende kookkompetisie, #NextBoschChef, volgende Saterdag.

Hart is een van sewe finaliste wat ’n kans staan om die Bosch Chef-titel te ver­ower en vir ses maande sy eie kookklasse aan te bied.

Hy sê: “Ek is baie opgewonde oor die kompetisie en gaan om dit te geniet, lekker kos te maak en jonk en oud te inspireer met my passie vir kos.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters