3 maande gelede
‘Hy is by sy nefies in hemel’
Denzil Abrahams  ~ 

“MAMMIE is jammer... as jy nie verder kan nie, moet jy gaan...”

Dit was die woorde van ’n bitter hartseer mammie, Natasha Abrahams, langs klein Denzil (3) se hospitaalbed waar die tenger kleutertjie gesukkel het om aan die lewe te bly.

Denzil het Saterdagoggend sy laaste asem uitgeblaas in die Rooi Kruis- kinderhospitaal.

Hy was die nefie van die tweeling Em-Jay en E-Jay Eksteen (4), wat op 18 Januarie in ’n huisbrand in Kleinvlei dood is.

Ingegee

Klein Denzil was sedertdien met erge brandwonde in die hospitaal.

Ná 13 operasies en die afgelope drie maande se pyn en lyding het sy klein lyfie ingegee. Die familie glo hy het hom in die hemel by sy nefies aangesluit.

Em-Jay het 100% brandwonde opgedoen en is dieselfde aand van die brand, Vrydag 18 Januarie, dood. Sy tweelingboetie is ure later dood, ook weens die trauma van die brandwonde.

Natasha sê gister met ’n uitgehuilde hart dat die afgelope drie maande die heel moeilikste is wat sy en haar man, Denver Kotze, al ooit beleef het.

“Ek wou net gehad het die dokters moet eerlik met my wees oor sy toestand. Hulle het altyd vir my gesê ek moet rustig wees en hy doen goed,” sê sy.

Sy het die dokters geglo omdat daar ’n tydperk was in die afgelope drie maande waarin Denzil sy bene kon lig en hy ’n paar woorde kon praat.

Maar dinge het die laaste maand verander toe hy terug ICU toe is.

“Hy was onlangs net op ’n suurstofmasjien. Maar sy longetjies het al hoe swakker geraak.

“Die operasies wat hy ondergaan het, was baie vir hom om te hanteer. Dit het hom deur baie gesit,” sê sy.

Natasha sê haar kind het elke slag gehuil as hy teater toe moes gaan.

“Dit was asof hy deur sy trane vir my gesê het: ‘Mammie, hulle maak my seer. Ek kan nie meer nie’.

“Dit was vir my die ergste om hom so te sien,” sê sy.

Natasha sê sy het ’n voorgevoel gehad, nes haar broer, Earl Eksteen, die pa van die tweeling, dat Denzil dit nie gaan maak nie.

Droom

“Dit maak dit nie mak­liker nie, maar ek weet hy is nou ’n engel saam met sy nefies. Hy is vry van enige operasies, enige pyn en lyding,” sê sy.

Eksteen het Saterdagoggend voordat hy die nuus oor Denzil ontvang het, ’n droom gehad dat die seun afsterf. Hy vertel: “Dit was ’n baie slegte droom, maar ek glo dit was hoe ek veronderstel was om die tyding te kry.

“Ek weet nou my kinders en Denzil speel nou lekker saam.”

Natasha sê klein Denzil het ’n liefdevolle persoonlikheid gehad.

Energie

“Hy het soveel mense liefgehad en daar was soveel mense wat hom liefgehad het.

“Hy was vol energie en het dit baie geniet om te speel. Ons sal sy vriendelikheid baie mis,” sê die hartseer mammie. 

EM-JAY EN E-JAY EKSTEENFOTO’S VERSKAF
smart: Denzil se ouers, Natasha Abrahams en Denver Kotze, praat oor hom.
gebroke: Natasha Abrahams kan die trane nie keer wanneer sy oor haar seuntjie praat nie. Foto’s: JONATHAN LESTRADE
onthou: Earl en Melissa Eksteen, die ouers van die oorlede tweeling Em-Jay en E-Jay, vertel van die tragedie.
Denzil Abrahams
  • Die familie tref nog die begrafnisreëlings.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters