Verlede jaar
‘Hy gebruik self skoolgeld’
bedrog: Gerugte loop oor Bertie Zass, die onderburgemeester van Clanwilliam.Foto: FACEBOOK  ~ 

DIE onderburgemeester van die Cederberg- munisipaliteit word deur klagte van bedrog in die gesig gestaar.

Bertie Zass het na bewering geld wat vir ’n skoolprojek gebruik moes word, vir eie gewin gebruik.

Volgens Neville Delport, die streeksekretaris van die ANC, is daar op ’n onlangse raadsvergadering gevra dat die hoofsweep die beweerde klagtes teen Zass ondersoek.

Delport sê: “Die onderburgemeester het na bewering R20 000 van een die diensverskaffers ontvang vir die ‘Back to School’- projek wat in Januarie vanjaar afgeskop het.

“Die diensverskaffer het die kwotasie vir die aankope van skoolklere en skryfbehoeftes gekry.

“Sy het toe die geld aan die onderburgemeester oorhandig om die skoolklere vir die leerders van Cedarville­ Primêre Skool en Clanwilliam Sekondêre Skool te koop.

“Die behoef-tige leerders is deur die onderwysers en skoolhoofde geïdentifiseer.

“Die onderburgemeester het glo net ’n gedeelte van die geld vir skoolklere gebruik en die ander vir persoonlike doeleindes.”

Volgens Delport moet daar ondersoek word wat die verbintenis tussen die diensverskaffer en ’n beampte van die munisipaliteit is.

Delport beweer die geld moes nooit aan die onderburgemeester oorhandig gewees het nie.

Hy sê die diensverskaffer moes self die skoolklere gekoop en dit aan die kinders oorhandig het.

Zass was ook in 2002 in die kollig toe hy as voorsitter van die polisiërings- forum in Clanwilliam geskors is.

Hy het na bewering die voertuig van die polisiëringsforum vir persoonlike doeleindes gebruik.

Bertie Zass wou nie die beweringe bevestig nie en het Son na die Cederberg-munisipaliteit verwys.

Petronella Horne, ’n woordvoerder vir die Cederberg-munisipaliteit, het aangedui hulle gaan nie kommentaar lewer op die beweringe nie.

Nothemba Pinkie Batwa, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak van bedrog is aanhangig gemaak en dit word ondersoek.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters