Verlede maand
Hy boet vir neef
moordtoneel: Die cops voor die winkel in Ravensmead waar Andre Faroa (26) Maandagaand doodgeskiet is toe hy gaan entjies koop het.Foto: LEON KNIPE  ~ 

NOG ’n onskuldige persoon is Maandagaand in Ravensmead se bendegeweld afgemaai.

Andre Faroa (26) is twee keer in die rug en een keer in die agterstewe geskiet.

Die voorval het om en by 20:40 voor ’n tuck shop in Gladiolastraat plaasgevind.

Hy is op die toneel dood.

Faroa het na bewering entjies by die winkel gaan koop toe hy deur ’n onbekende man genader is.

Die man het op hom losgebrand en hom noodlottig gewond.

Dit is nog onseker of die moord verband hou met die skietery, ook in Ravensmead, waarin Browina Nolan (20) dood is.

Nolan se bebloede lyk is Maandagoggend deur ’n verbyganger op die perseel van die Ou Apostoliese Kerk in Stroebelstraat gekry.

Sy is vermoedelik al die vorige aand vermoor en is twee keer in die kop geskiet.

afgemaai: Andre Faroa (26) van Ravensmead is koelbloedig doodgeskiet. FOTO’S VERSKAF

Nolan het die afgelope twee weke nie by haar ouers se huis in Ravensmead gebly nie oor sy vir haar lewe gevrees het.

Sy het haar ma, Mandy Solomons (35), die aand voor haar dood gebel om te sê dat sy die volgende dag sou kom kuier.

Haar lyk is egter die volgende dag naby hulle huis by die Ou Apostoliese Kerk gekry.

Volgens Dawie van Wyk, ’n gemeenskapswerker, het die bendegeweld weer in Ravensmead kop uitgesteek.

Van Wyk sê: “In gisteraand (Maandag) se skietery is ’n onskuldige man doodgeskiet net oor die gangsters sy neef nie in die hande kon kry nie.

“Die inwoners vrees al om saans winkel toe te gaan, want hulle weet nie wanneer die gangsters weer begin skiet nie.

“Daar is ekstra cops wat in die gebied patrolleer.

“Maar sodra hulle uitbeweeg, dan begin die gangsters weer skiet.”

Niemand is nog vir die twee moorde in hegtenis gegeem nie.

  • Enige iemand wat inligting oor die moorde het, kan die polisie se tolvrye Stop Misdaadnommer skakel by 08600 10111.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters