2 jaar gelede
‘Hy bly gevaar vir mensdom’
rehabilitasie: Hayden Knibbs, kliniese sielkundige, sê dis onwaarskynlik dat sielkundige behandeling ­Cameron Wilson kan help.  ~ 

BEHEER en mag.

Dít was die dryfkrag agter die misdade waarop die “reeksmoordenaar” Cameron Wilson skuldig bevind is.

Só het Hayden Knibbs, kliniese sielkundige, gister in die Kaapse hooggeregshof getuig.

Hayden is een van die sielkundiges wat ’n verslag saamgestel het nadat hy Wilson sielkundig geëva­lueer het.

“Die misdade gaan oor beheer oor ander, ’n sadistiese begeerte om ander skade aan te doen en om te beïndruk.

“Hy het soms ander teen hul wil gedwing om deel te neem uit vrees vir hul lewe.

“Die beskuldige is nie uitgelok toe hy die misdade gepleeg het nie.

“Sy prooi was slagoffers wat hom geen skade aangedoen het nie,” verduidelik Knibbs aan regter Chantal Fortuin.

Hy het Wilson as ’n reeksmoordenaar en ’n psigopaat geklassifiseer.

“Die beskuldigde sal voortgaan om ’n hoë vlak van gevaar en bedreiging vir in­dividue in die gemeenskap inhou.

“Hy toon ’n self-liefde vir selfgeregtigheid en wanneer dít gekneus word, kan dit veroorsaak dat die beskuldigde in ’n bloeddorstige manier, optree. Hy aanvaar geen verantwoordelikheid vir sy dade nie. Hy toon nie berou nie,” voer Knibbs aan.

Prof. Sean Kaliski, wie sy verslag Mandag aan die hof bekend gemaak het, het Wilson ook as ’n psigopaat gediagnoseer.

In die hof het dit uitgekom dat hoewel rehabilitasie vir die beskuldigde hoogs onwaarskynlik is, word sielkundige behandeling deur ’n kliniese sielkundige aanbeveel.

Mohamed Sibda, Wilson se regsverteenwoordiger, wou weet of psigopatie geneties veroorsaak word en óf die omgewing en sy pa ’n rol kon gespeel het.

“Dit kan ’n rol speel, maar daar is geen bewyse hiervoor nie. Daar is geen bewyse oor wat psigopatiese persoonlikheid veroorsaak nie,” het Knibbs geantwoord.

Wilson is skuldig bevind aan die moorde van Lekita Moore, Stacey-Lee Mohale, Alfonzo van Rooyen, Toyher Sober en Ernest Erasmus.

Die saak gaan Maandag voort wanneer Sibda ter versagting van vonnis namens Wilson gaan betoog.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters