5 maande gelede
Hulp maak harte warm
dankie: Kashiefa Caeser (middel) kon nie ophou smile toe sy die pakkie kry nie. ONDER: Meer as 150 inwoners het met twee groot sakke kos huis toe gegaan.Foto’s: Jonathan Lestrade  ~ 

DIS soos ’n blessing wat op die regte tyd gekom het.

Net die vorige aand het sy nie geweet waar sy kos gaan kry om te eet nie.

Kashiefa Caeser (62) is een van 150 inwoners van Eastridge wat laas week ’n kospakkie van die nieregeringsorganisasie Lace Up For Change (LUFC) ontvang het.

Dié organisasie, wat vir meer as vyf jaar al die kwesbares help, het verlede Woensdag inwoners van Eastridge in Mitchells Plain, sowel as ouers van die Islamitiese Hoërskool Darul Arqam met kospakkies bederf.

Irafaan Abrahams, vise-direkteur van die LUFC, sê hulle het hulp gekry van die Kuwait Awqaf Public Foundation.

“Die voormalige Suid-Afrikaanse konsul-generaal vir Saoedi-Arabië, Cassim­ Peer, het van ons organisasie te hore gekom en ons met die inisiatief genader. Ons het die skool gekies omdat die skool in 2020 ’n 100%- slaagsyfer gehandhaaf het.

“Ons almal weet hoe moeilik 2020 vir ons leerders, hul ouers en gemeenskap was.”

Abrahams, wat ook ’n onderwyser is, sê die leuse van hul organisasie is “ ’n Ge­wone onderwyser wat buitengewone dinge doen”.

Hy sê: “Dit beteken nie dat ons beter as ander is nie, maar dat die mense vir ons ’n seën is!

“Die trane van vreugde wat gestort word, maak jou warm. Al weet jy nie soms waardeur die persoon gaan nie, voel jy dit aan.”

Caeser vertel sy het haar man ’n maande gelede verloor en bly in ’n hokkie. Sy sê sy worry daagliks oor waar die volgende bord kos vandaan gaan kom.

“Dit het op die perfekte tyd gekom.

“Nou kan ek uitsien na Labarang, want net gisteraand het ek nie eens geweet waar ek kos sou kry nie.

“Shukran,” sê sy aangedaan.

Die skoolhoof, sheikh Ebrahim Dawood, kon ook nie genoeg dankie sê nie vir die hulp in hierdie tyd waarin dit baie swaar met almal gaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters