7 dae gelede
Hulle het genoeg gemoor
Alan Winde, die Wes-Kaapse premier.  ~ Jaco Marais

“DIÉ boewe moet gearresteer word. Dié boewe moet van ons strate af verwyder word.”

Só het die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, gister op ’n digitale perskonferensie oor die voortslepende taxigeweld in die Kaap gesê.

Son het vroeër berig sowat 80 mense is tot dusver vanjaar in die voortslepende taxigeweld vermoor en meer as 20 van hulle is net in Julie afgemaai.

Die oorlog tussen Cata en Codeta spruit uit ’n dispuut oor die Mbekweni-, Paarl- en Bellville-roete.

Winde sê: “Dié situasie waarin die ekonomie van die provinsie gyselaar gehou word, moet end kry.”

Sowat 120 000 mense is gestrand weens die feit dat Golden Arrow sy dienste moes verminder.

Winde wil hê die hired guns en ring leaders moet gearresteer word. Troepe kan ook ontplooi word om busse te help beveilig.

Dis bo en behalwe die polisieversterkings wat aansienlik by brandpunte opgeskerp is, volgens Winde.

Vermoë

Lt.genl. Thembisile Patekile, Wes-Kaapse polisiekommissaris, sê die cops doen alles in hul vermoë om die geweld te stop en 12 mense is gearresteer. Daar’s ook op 14 vuurwapens en ammunisie beslag gelê.

Hy sê verder hy weet van voice notes waarin drivers van e-hailing-dienste gedreig word.

Volgens hom kyk die SAPD se kuber-eenheid daarna. Hulle probeer die oorsprong van dié boodskappe bepaal.

Patekile moedig enigeen wat gedreig is, aan om ’n saak aan te meld sodat die polisie die kwaaddoeners gou kan arresteer.

Die Wes-Kaapse minister van vervoer, Daylin Mitchell, sê hy is baie teleurgestel dat die taxiverenigings nog nie ’n ooreenkoms bereik het sodat taxi-dienste weer normaalweg kan opereer nie.

Yasir Ahmed, Wes-Kaapse direkteur van vervoer, sê dié departement het weens die taxigeweld alle finansiële ondersteuning aan die taxiverenigings opgeskort.

’n Onafhanklike bemiddelaar is aangestel en arbitrasie sal na verwagting volgende week afskop.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters