6 dae gelede
Huiswis met sus
Ouma Lissie
Gegrief: Ouma Lissie de Klerk sê sy’s ongelukkig oor haar buurvrou se rou gedrag.  ~ FOTO’S VERSKAF

WITTEWATER. – Beskuldigings oor en weer en ’n vyandigheid tussen twee susters maak mense in die buurt en selfs die polisie raadop.

Son het verlede jaar berig oor Roseline le Fleur (38) wat gekla het oor haar suster, Joan Arendse, van Bellville-Suid.

Le Fleur het toe beweer Arendse is agter die huis aan wat haar ma vir Le Fleur nagelaat het. Haar suster was ook ontevrede oor sy Arendse se seun destyds uit die huis uitgeskop het.

Sy’t verder beweer Arendse het mense teen haar opgemaak en vir haar doodsdreigemente oor die foon gestuur.

Arendse het die aantygings destyds ontken en gesê haar suster is nie wat sy voorgee nie.

Sy’t ook aan Son gesê sy wens haar suster sterf.

Toe Son haar vra of sy ernstig is, het Arendse geantwoord: “Natuurlik! Sy moet vrek! Sê ek sê so.”

Die intense haat tussen die twee susters het nog nie verflou nie, want Le Fleur beweer nou sy’t onder haar buurvrou deurgeloop – ook deur haar suster se toedoen.

Sy sê: “Joan was in Oktober verlede jaar by my buurvrou en van toe af treiter die antie my.

“Sy skel my lelik uit en haar kleinkind (14) het vier gate in ons huis se asbesdak gegooi. Die kind het my al ’n ‘asshole’ genoem en gesê sy gaan my moer. My neef kom by hulle huis en hy het ook ’n gat in my dak gegooi.

“Ek het ’n saak teen hulle gemaak.”

Toe Son Sondag Le Fleur se buurvrou Lisetta “Lissie” de Klerk (74) oor die aantygings teen haar uitvra, het sy gesê: “Ek is so bly om met julle te praat. Roseline vertel net leuens en die gemeenskap weet van haar.

“Haar suster kom nie eens by my nie. Ek sluit my in my huis toe, want sy sê sy wil my opn***.

“Sy sê ek lê met ander manne.

“Watter jong mens praat so lelik met ’n vrou van my ouderdom?

“Ons leraar was al hier om my te ondersteun en ek het verlede week die polisie na haar toe gestuur.

“Toe wou sy nie die deur oopmaak nie, maar sy skel toe die polisie lelik uit deur die venster.

“Sy sê my kleinkind en haar neef het gate in haar dak gegooi. Dis nie waar nie.

“Haar oorlede ma het jare langs my gebly en ons het nooit probleme gehad nie,” vertel ’n moedelose ouma Lissie.

Oproep

Toe Son Le Fleur se suster bel en vra of hulle mekaar nog steeds so haat, was dit duidelik dat niks verander het nie.

Arendse wou niks van haar suster hoor nie en het op antie Lissie se kommentaar geantwoord: “Julle wou my mos nie glo nie.” En toe beëindig sy die oproep.

Lt.kol. Ayanda Zimba, bevelvoerder van die Piketberg-polisie, sê hy het verlede week self ’n ver­klaring by Le Fleur afgeneem en aan sy speurders oorhandig om te ondersoek.

Ouma Lissie sê die speurders was daar en ook by Le Fleur se neef en hulle kon geen oortredings vind nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters