Verlede jaar
Huise: Minister lê besoek af
Lotusrivier: Bonginkosi Madikizela, die provinsiale minister van menslike nedersettings, lê besoek om die gemeenskap se behoeftes te bepaal. Foto: Melinda Stuurman  ~ 

DIE winter is die ergste.

Alles lek.

En daar is dae dat hulle uit die bed in ’n poel water trap.

Só kla die gemeenskap van die Jabula- informele nedersetting in Philippi oor hul omstandighede.

“Hier gebeur niks. Ons wag dan al langer as ses jaar vir straatligte,” pak Delicia de Mink uit. “Ons is die vergete mense. Niemand worry oor ons nie en daar is net leë beloftes.”

De Mink het stem dik gemaak toe Bonginkosi Madikizela, die provinsiale minister van menslike nedersettings, Dinsdag verskeie informele nedersettings in die Lotusrivier-gebied, insluitend Jabula, besoek het.

Hy het ook Sandvlei, Nooitgedacht, Wit Blokke en Egoli besoek. Die rede vir sy besoek was om na klagtes en behoeftes te luister.

Madikizela wil sodoende probeer oplossings vind.

Sommige van die nedersettings bestaan al 30 jaar.

Sheila van Wyk (48), ’n inwoner, vertel hulle gebruik verskillende soorte boumateriaal, soos planke en sinkplate, om die huis te vergroot.

“Ons wag op verandering, maar dis duidelik dat dit nog jare sal vat. Ons familie van tien krepeer­ en hier is geen privaatheid­ of luxury nie,” sê sy.

Van Wyk sê hulle vra nie vir baie nie, net die basics.

“Ons het nog nooit ’n binne-toilet gehad nie.

“Ons hoop dat die minister ons rêrig raaksien. Lip service­ is een ding, maar aksie is wat ons wil sien,” sê sy.

Intussen beplan Madikizela om die lewensvatbaarheid te ondersoek daarvan om die grond waarop die nedersettings gevestig is, vir behuising te laat ontwikkel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters