Verlede maand
KYK: Houe reën toe sy wou keer
ORDEAL: ’n Baie emosionele Suzanne­ du Plessis praat oor die nagmerrie wat sy en haar vrou moes deurmaak.  ~ Peter Abrahams

’N LESBIESE egpaar in Franschhoek is erg getraumatiseer nadat hulle die naweek voor ’n kuierplek aangerand en uitgevloek is en glo boonop verneder is toe hulle die saak wou aangee.

Suzanne du Plessis (30) en haar vrou, Ruché, het die naweek mense van die Paarl gehad. Hulle het Saterdagaand by ’n klub in Groendal gekuier toe ’n onderonsie ontstaan.

“My swaer en die man het ’n uitval gehad. Ek het tussenbeide getree, want ek hou nie van konflik nie,” vertel Suzanne.

Sy sê sy’t gevra waaroor die fight gaan, waarna sy ingelig is haar swaer het kastig die man se meisie gesoen.

“Die fight is gestop en ek het my swaer en die ander huis toe geneem. By ons terugkoms het ons gesien die man en sy vriende staan nog buite. Ek het daar gestop en wou net seker maak die hele ding is nou opgelos.”

Suzanne vertel die man het haar van ’n kant af uitgevloek nog voordat sy haar sê kon sê.

“Hy het my ’n n*** genoem en gesê ek hou vir my soos ’n man, so hy sal my slaan soos ’n man.”

Die man het haar met sy vuiste al in haar gesig geslaan.

Suzanne word emosioneel toe sy vertel dat haar vrou wou help.

“Die bloed het van my kop afgestroom. My lip was stukkend. Ek kon nie eens my vrou beskerm toe hy haar aanval nie. Alles het so vinnig gebeur.”

Die egpaar is na die Franschhoek-polisiekantoor toe. “Die beampte by die aanklagkantoor is goed bevriend met die man wat my aangerand het. Hy wou nie die saak vat nie en het gesê ek is onder die invloed van drank.

“Maar toe die man wat my geslaan het inkom, is hy gehelp.

“Hulle twee het nog gelag terwyl ons uitstap. Dit was die cherry op die koek.”

Suzanne het ná haar besoek aan die hospitaal ’n saak geopen.

Sy is toe meegedeel dat die man ook ’n saak teen haar gemaak het.

AANGERAND: Die lesbiese egpaar Suzanne (links) en Ruché du Plessis sê die aanrander het hulle geslaan asof hulle mans is. Foto: Peter Abrahams

Die Du Plessis-egpaar sê hulle soek geregtigheid.

“Die feit dat hy gesê het ‘sy hou vir haar soos ’n man en ek sal haar slaan soos een’ ... Ons kan dit nie net so los nie.

“Dit is nie oukei om mense aan te rand omdat hulle ’n sekere leefstyl kies nie,” laat Ruché hoor.

Verkeerd

Suzanne sê ná die voorval het sy dit oorweeg om nooit weer na ’n kuierplek in Franschhoek te gaan nie.

“Maar hoekom moet ons in hiding gaan? Ons is klaar verneder en ons het niks verkeerd gedoen nie.”

Kapt. Frederick van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat Suzanne ’n klag van aanranding aanhangig gemaak het en dat dieselfde klag haar in die gesig staar.

“Die verdagte is reeds aangekla en verskyn Donderdag (vandag) in die landdroshof in Franschhoek.”

Enige iemand met inligting oor die voorval kan speursers. Matshaya kontak by 021 876 8060.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters