Verlede maand
‘Hou op sê sy's klaar dood!’
Tazne Van Wyk
HOEKOM?: Terrence Manuel en Carmen van Wyk wil weet hoekom mense onsensitiewe rumours oor hulle kind rondslinger.  ~ Jonathan Lestrade

MENSE wat klaar dink Tazne van Wyk (8) is dood, het haar ouers omtrent ontstel.

Die ouers se versoek aan Son-lesers is dat bespiegelinge dat hulle meisiekind reeds dood is, moet stop.

Carmen van Wyk, Tazne se mammie, en Terrence Manuel, haar derra, het gister aan Son gesê terwyl hulle nog vol moed is en vas glo dat hulle pragtige meisiekind leef, is daar mense wat met hulle praatjies rondloop – en vir hulle is dit onaanvaarbaar. Klein Tazne het presies 11 dae gelede spoorloos verdwyn nadat sy na ’n huiswinkel oorkant haar ouerhuis in Clarestraat in Elsiesrivier gegaan het.

Manuel vertel gister aan Son dat hierdie tipe woorde van al die doemprofete hom baie erg ontstel en hy wil graag weet hoekom mense dit doen.

“Die mense is onsensitief. Ons is mense van God en ons glo dat Hy die laaste sê het. Hoe kan iemand net so iets praat?

“Hulle sit goed oor my kind wat nog lewe! Sy leef nog!”

Gedeel

Hy sê al is daar sulke gerugte daar buite het hulle as ouers steeds hoop.

“Sy lewe nog. Ons sal dit glo tot sy gevind is.”

Tazne van Wyk

Mammie Carmen glo dat persone wat hulle sentiment oor hul dogter se beweerde dood gedeel het, deur die polisie ondersoek moet word.

“Hier’s mense wat nie net beweringe rondslinger nie. Hulle state sommer dat my dogter dood is.

“Hoe weet hulle dit? Hoe kan jy so seker wees? As jy so kan sê, stel jy ook nie belang om die kind lewend te kry nie!”

Tevore het Candice van der Rheede van die Wes-Kaapse eenheid vir vermiste persone ook mense gesmeek om nie onnodige gerugte oor te dra nie. Van der Rheede sê dit maak almal se werk nog moeiliker.

“Moenie sê jy’t haar of die man gesien as jy nie seker is nie. Ons werk reg om die klok om die kind te vind en as valse inligting deurkom, is dit minute, ure, sekondes wat weg en verlore is. Jy kry nie weer daai tyd terug nie.”

Verwikkelinge

Lt.kol Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, sê die ondersoek om Tazne te vind gaan voort en daar is sover nog geen nuwe verwikkelinge nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters