Verlede maand
Hospitaal gee glo die vinger
VERNIET: Manda Leendertz sê sy word elke keer op nul per mond geplaas vir ’n operasie wat eenvoudig nie plaasvind nie.  ~ Foto Verskaf

’N VROU sê haar vingers is besig om weg te vrot omdat die gesondheidswerkers by die Tygerberg-hospitaal nalatig is.

Manda Leendertz van die Strand sê sy lê nou al vir meer as ’n week in die hospitaal met dieselfde verbande aan haar vingers.

Volgens haar is sy in die ribbes en die hand gesteek en dadelik in die Tygerberg-hospitaal opgeneem.

Leendertz sê daar is toe al aan haar gesê daar gaan aan haar vingers gewerk word, maar tot nou toe het dit nooit geskied nie.

Dié ma van vier kinders het aan Son vertel sy begin bekommerd raak oor haar hand al ’n reuk begin afgee.

Volgens Leendertz word haar wonde ook nie daagliks skoongemaak nie. Daar is aan haar gesê die saal waarin sy lê, is die verkeerde saal en daar word nie verbande aangehou nie.

Sy vertel: “Ek is ’n diabeet en amper elke dag word ek op nul per mond geplaas oor hulle sê ek gaan geopereer word.

Rondspring

“Elke dag is dit dieselfde storie, maar niks gebeur nie. Ek eet nie, maar ek word ook nie geopereer nie.

“Die dokters was van­oggend hier. Toe sê hulle ek is nie op die operasielys geplaas nie.

“Agterna het hulle gesê ek mag maar eet oor ek ’n diabeet is. Hulle het ook gesê ’n dokter sal my vanaand (Woensdagaand) opereer en ek moet ná middagete niks meer eet nie. Ek sal maar sien of dit gaan gebeur.”

EINA! Leendertz beweer haar beskadigde vingers gee al ’n klankie af. Foto: Verskaf

Leendertz sê nadat sy Son genader het, het die gesondheidswerkers van die hospitaal skielik begin rondspring en haar versorg.

Haar wonde is skoongemaak en sy is nuwe verbande aangesit. ’n Dokter het haar ook besoek en hy het foto’s van haar beserings geneem.

Volgens Leendertz het die dokter gesê sy moes lankal geopereer word oor daar al etter uit haar wond kom.

Laticia Pienaar, die woordvoerder van die Tygerberg-hospitaal, sê daar moet eers aan ernstige en lewensgevaarlike gevalle aandag gegee word.

Volgens Pienaar word daar elke oggend ’n volle akademiese vergadering gehou om hierdie ernstige beserings te bespreek en te prioritiseer.

Sy verduidelik: “Ons het tans 94 pasiënte wat op nood- ortopediese chirurgie wag en dié met lewens­gevaarlike ledemaattoestande word geprioritiseer.

“Mev. Leendertz se wonde is skoon en daar is geen tekens van infeksie nie. Sy is vanoggend (Woensdag) bespreek en is geskeduleer vir ’n operasie oor die volgende 24 uur.

“Ongelukkig moet pasiënte op nul per mond geplaas word om gereed te wees vir ’n operasie en dan word dit gekanselleer as gevolg van ander lewensgevaarlike ledemaatgevalle.

“Dit is vir niemand aangenaam nie, maar dis ongelukkig belangrik om seker te maak die risiko van narkose word geminimaliseer. Twee dokters het dit aan haar verduidelik.”

Pienaar voeg by hulle probeer hul bes om alle pasiënte te behandel soos in die raamwerk hierbo uiteengesit en hulle sal aanhou om dit te doen.

GELEM: Leendertz is in die hospitaal opgeneem nadat sy gesteek is. Foto: Verskaf

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters