8 maande gelede
Hope (5) ry nou taxi skool toe
lee-roy davids, hope davids
PRIORITEIT: Dit maak nie saak hoe ons daar kom nie, solank Hope haar education kry, sê pa Lee-Roy.  ~ Eldridge Jason

DIE breedste van smiles­.

Dit is wat dié week op die gesiggie van klein Hope Faroa (5) van Epping Forest­ in Elsiesrivier te sien was.

Son op Sondag het laas week berig dat Hope se pa, Lee-Roy Davids, sy gehoorgestremde dogtertjie op sy fiets skool toe vat.

Dis omdat hy die vervoerkoste na die Carel du Toit Skool vir Gehoorgestremdes op die perseel van die Tygerberg-hospitaal nie kan bekostig nie.

Pleks daarvan om handjies gevou agteroor te sit, het Davids besluit om sy fiets in te span om seker te maak sy dogter kry die education wat sy verdien.

Die koerant was skaars op straat of ’n barmhartige Samari­taan­ in die gedaante van Wendy Philander het gereageer.

Philander, ’n gemeenskapswerker van Wellington, sê haar hartsnare is geroer toe sy lees oor Davids se vasberadenheid om Hope by die skool te kry.

En dít in alle weerstoestande en deur verby die gangsters te trap.

Sprakeloos

Só geraak was Philander dat sy daarop aangedring het om Hope en haar ouers te ontmoet.

En toe die nuus wat Davids sprakeloos gelaat het en Hope haar haasbekkie breed laat wys het – sy wat Philander is, gaan maandeliks Hope se vervoer­koste betaal.

Philander het aan Lee-Roy verduidelik: “Ek kom soveel pa’s teë wat nie hul plek in hul gesin inneem nie.

“Wat jy doen, is treffend. Jou absolute commitment teenoor Hope en jou gesin – ’n mens kry dit nie meer aldag nie.

“As julle instem, sal ek graag Hope se vervoerkoste wil dek, want my hart het geswel van trots toe ek sien wat jy vir jou kind doen.”

En Davids was behoorlik uit die veld geslaan.

“Jô, ek weet nie wat om te sê nie,” het hy oorbluf gereageer.

“Dankie­. Baie dankie.

“Die wind het hoeka vandag (Donder­dag) weer so sterk gewaai toe ek haar by die skool gaan haal het.”

Philander sê sy help graag waar sy kan en voeg by: “Elke bietjie help. Ons leef deesdae almal so verby mekaar.

“As ons almal net na mekaar uitreik, sal ons besef dat elke bietjie wat ons vir ander doen, ’n groot verskil kan maak.”

Hope kon nie ophou smile nie en het Philander styf vasgedruk.

Sy sê sy geniet die skool baie en sien nou uit daarna om soos haar maatjies in ’n taxi skool toe te ry.

Winter

Haar oorstelpte ma, Julinda Faroa, het Philander ’n drukkie gegee en gesê: “Ek is baie, baie bly vir wat u vir my kind doen.”

Philander sê sy doen net die regte ding, veral noudat die winter nog voorlê.

Sy sê sy wou haar nie indink hoe dié kleintjie in woeste winterweer by die skool moes kom nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters