10 dae gelede
KYK: Hop van vreugde
KOM, JULLE: Hier word hard ge­oefen voordat die amptelike video vir die uitdaging gemaak is.  ~ Jonathan Lestrade

’N GROEPIE kinders het hulle Saterdag in Broadlands Village gate uit geniet met die jolige Jerusalema-dansuitdaging.

Lazelle Schoeman van Helderberg Eiendomme het die kinders byeen gekry om die dansuitdaging te doen.

Die jong kinders kon nie genoeg kry daarvan om hul dans-moves te wys nie.

Die paar grootmense wat ook op die oop veldjie oorkant die parkie was, moes uithaal om by te bly.

Die groepie het ’n paar keer die moves geoefen voordat daar ’n video gemaak is.

Die Jerusalema-dansuitdaging het regoor die land vlam gevat nadat pres. Cyril Ramaphosa inwoners aangemoedig het om dit op Erfenisdag te doen.

Volgens Schoeman werk sy die afgelope twee jaar in die Broadlands-area en het vir die gemeenskap lief geraak.

Schoeman sê: “Die gemeenskap het my met ope arms ontvang en ek wil net teruggee aan hulle.

“Ek het voorgestel dat ons die Jerusalema-uitdaging vir die pret doen.

Sy verduidelik hulle het nie lank gesukkel om alles te organise nie, want ál die kinders ken die Jerusalema-dans.

Motivering

“Ek wou net ’n pretdag vir die kinders hê en het gehoop dat hulle dit sal geniet.”

VOL TALENT: Die kinders geniet dit behoorlik toe hulle as een groep wys wat in hulle steek. Foto: Jonathan Lestrade

Eben Abrahams (60), ’n inwoner van Broadlands, sê dit was ’n goeie ding om die kinders uit die kwaad te hou.

Abrahams sê: “Dit is ’n motivering vir die kinders.

“Ons het nie veel ontspanningsgeriewe hier nie en dis ’n stil gemeenskap.

“Daar is net dié klein parkie waarin hulle kan speel.”

Baie van die inwoners het hul kleinkinders gebring om ook aan die uitdaging deel te neem.

BLY BY: Die kinders wys gou hulle kan die grootmense ore aansit as dit by die Jerusalema-dans kom. Foto: Jonathan Lestrade

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters