6 dae gelede
Hoop vir siek kid
MAMMA S'N: Mairah is soos enige klein meisietjie wat van makeup hou.  ~ Foto Verskaf

KLEIN Mairah Hassan is nie net haar ouers se oogappel nie, sy is ook hul wonderwerkie.

’n Aggressiewe soort kanker, neuroblastoom, is in Februarie by die 19 maande oue Mairah gediagnoseer toe sy vir ’n gewone check-up gegaan het.

Haar mamma, Nurah, verduidelik dat sy haar dogter na die dokter geneem het omdat sy ’n verlies aan eetlus en ’n koors gehad het. Sy’t gehoop dis net weens tandjies wat deursny, maar haar grootste vrees is toe bevestig.

Bloed

“In Februarie het ’n dokter haar ondersoek en ’n gewas gevind wat kankeragtig was.

“Neuroblastoom is ’n baie unieke tipe kanker en word in kinders gevind.

“Baie mense het van leukemie gehoor wat in die bloed voorkom, maar dié kanker is ’n soort wat ’n tumor oplewer wat jy nie met die oog kan sien nie en dit is moeilik om te behandel.”

Dit het egter nie die meisietjie se gees gebreek nie.

Klein Mairah hou steeds van musiek en dans en sing.

“Hoewel sy al baie harde dinge in die lewe ervaar het en al is dit moeilik om haar te laat lag as sy jou nie ken nie, is sy baie liefdevol, veral teenoor ander kinders, want sy is altyd in die hospitaal.”

Haar ouers hoop nog op ’n wonderwerk en vra mense nou om hulle te help om R2,5 miljoen vir behandeling oorsee in te samel sodat sy kan voortgaan om hul lewe op te kikker.

“Toe ons uitvind hoe die kanker versprei het, was dit vir ons baie moeilik, want dit is woorde wat jy as ouer nie wil hoor nie.

Fokus

“Ons het ook geleer hulle het nie ’n opsie (vir immunoterapie) in Suid-Afrika nie en dis net ’n kwessie van tyd.

“Ons het reeds ons chemoterapie-opsie in Suid-Afrika gebruik en nou is die enigste opsie om te gaan na Amerika, waar hulle op sulke operasies en behandeling fokus.

“Maar selfs deur die slegte nuus was ons dogter ’n wonderwerk. Die dokters in Amerika het hulle vir haar beskikbaar gemaak. Ál wat ons nou nodig het, is hulp van almal.

“Ons lewens is onderstebo, maar die ondersteuning, selfs deur gebed, trek ons deur,” sê haar ma.

  • As enige Sonlander die Hassan-gesin wil help, kan julle een van die stappe in die poster regs volg.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters