10 dae gelede
Hoofde jubel oor uitslae
MOOI SO! Helen Zille, Wes-Kaapse premier (links), en die Hoër Tegniese Skool Delft se hoof, Noel Cleophas, bekyk die sertifikate, terwyl Debbie Schäfer, die provinsiale minister van onderwys, oor sy skouer loer.Foto: MELINDA STUURMAN  ~ 

’N SUKKELENDE gemeenskap kan steeds skitter. Niks sal hul matrieks terughou nie.

Met dié woorde het Noel Cleophas, die trotse hoof van die Hoër Tegniese Skool Delft, geblom van trots.

Dié skool het regdeur die matriekeksamen-periode sy deure saans tot 20:00 oopgehou sodat die leerders ’n plek kon hê om in vrede en stilte te studeer.

“Ons leerders kom van ’n gebied waar gangsterism en crime hoogty vier. Maar die feit dat hulle so goed gevaar het, wys net hul omstandighede is nie ’n verskoning om nie goed te vaar nie,” sê hy.

Hy het verduidelik die skool het in 2016 die eerste keer ’n leerder opgelewer wat ’n A-simbool vir Afrikaans behaal het.

“Die leerder het elke aand laat in sy badkamer by sy huis gesit en studeer omdat hy dit nie deur die dag of oggend kon doen nie. Dit is ’n voorbeeld van iemand wat nie die omstandighede as ’n ekskuus gebruik het om nie hard te werk nie,” sê hy.

Cleophas sê hy is so bly hulle is derde in die provinsie as skool wat die beste ver­beter het met ’n slaagsyfer van 78% vir 2017 nadat hulle in 2015 ’n slaagsyfer van net 35,7% behaal het.

Die skool is ook benoem as die tegniese skool wat die beste verbeter het.

“Hierdie verbetering is die gevolg van onderwysers wat ’n passie het vir skoolhou en leerders. Dit wys ons dat ons skoolbestuur op die regte pad is en dat alles werk wat ons geïmplementeer het om die skool in ’n posisie te plaas om erkenning te kry vir ons goeie werk,” sê Cleophas.

Hy voeg by hulle droom daarvan om die skool op die map en hul naam langs ander topskole in die provinsie te sien. “Ons is trots op ons skool se naam en van waar ons kom. Ons sal voortgaan om ons skool te bevorder deur jaarliks te verbeter en meer te doen vir ons leerders.

“Die fokus bly op dissipline, wat die sleutel tot sukses is.”

Intussen het die Hoërskool Aloe in Mitchells Plain die top spot gevat vir die skool wat die beste verbeter het.

Die skool het ’n slaagsyfer van 87% behaal – ’n prestasie wat die eerste keer in 15 jaar bereik is.

Envil Wertheim, hoof, was oorweldig deur blydskap oor dié slaagsyfer.

“Ons het almal lang ure ingesit en deur die skool­vakansies gewerk om seker te maak ons leerders is goed voorberei vir die eksamen. En dit wys net dit het gewerk,” sê hy.

Wertheim glo as sy skool enigiets onder 70% sou kry, sou hulle ge-label word. Dit het hulle net gemotiveer om harder te werk.

“Ons weet nog nie wat die regte formule is om seker te maak ons bly bo nie, maar ons gaan harder werk om daar te bly. Ons sal aanhou opofferings maak,” sê hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters