2 maande gelede
Hoof in hof ná 'sekkie-soene'
Opdringerig: Dit is hier waar ’n jong vrou se nuwe baas haar glo vasgedruk het. Foto: Melinda Stuurman  ~ 

’N JONG vrou van Black­heath het nie eens ’n minuut gehad om haar nuwe permanente werk te vier nie.

Kort nadat sy die blye nuus gekry het, het haar nuwe baas haar na bewering in sy kantoor vasgedruk en teen haar wil gesoen.

Hierdie details het gister in die Blue Downs Landdroshof uitgekom waar die skoolmeneer verskyn het.

Die hoof van ’n laerskool in Eersterivier het hom aan die polisie oorgegee nadat hy vyf dae net weg was.

Die beweerde voorval het Vrydag plaasgevind.

Gister het die skoolhoof geklee in blou jeans, ’n gestreepte hemp en maroen jersey onseker voorgekom.

Die boepensman het sy bril herhaaldelik verstel.

Nathan Adriaanse, die staatsaanklaer, het gesê die staat staan nie borgtog teen nie.

“Hierdie is ’n skedule 1-oortreding. Die vrou sê net nadat die hoof haar ingelig het sy is permanent as sekretaresse aangestel, het hy haar hand gevat. Sy’t gedink hy wil haar gelukwens en het ook haar hand uitgereik.

“Dit is toe dat hy haar met mening nader trek en haar teen haar sin soen.

“Sy sê die hoof het aan haar lippe gesuig en sy lyf teen haar lyf gedruk.”

Die klaagster (27) het haar na bewering teen die man verset en hom gevra om haar uit te los. Hy het haar toe laat gaan.

’n Klomp mense, insluitend afgevaardiges van die skool, het die saak bygewoon.

Die klaagster en haar ouers was nie in die hof nie.

Son verneem sy is gister vir berading geneem.

Die hoof is op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Die hof het dit sterk benadruk dat hy nie naby die klaagster mag kom nie.

Die vrou se ouers was geskok om te hoor die hoof is op borgtog van R1 000 vrygelaat. Die saak is weer op 11 Oktober in die hof.

Intussen doen die Wes-Kaapse onderwysdepartement sy eie interne ondersoek na die voorval.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters