4 maande gelede
Honde geskiet
Hartseer: Leroy Erasmus, Leslie Maneville en Winston Alkaster is die eienaars van die pit bulls.  ~ Peter Abrahams

MENSE wat op die Vissershokplaas buite Durbanville woon, is diep ongelukkig nadat drie van hul honde doodgeskiet is.

Winston Alkaster (28), Leroy Erasmus (29) en Lesley Maneville (22) beweer die boer van die plaas Groot Phesantekraal buite Durbanville het hul pit bulls, Leila, Winston en Dapper, geskiet.

“Ons het Woensdag 13 Mei met die drie pit bulls gaan stap in die veld agter waar ons bly.

“Die boer, André Brink, het met sy bakkie daar aangekom en gesê hy soek nie die honde daar nie.

“Ons honde worry nie oor sy skape en beeste nie en hulle val nie mense aan nie.

“Hy het toe die honde sonder enige rede geskiet,” vertel Alkaster.

Binnegoed

Erasmus sê ook die honde is vriendelik en val nie diere of mense aan nie.

Die drie vertel Brink het geen rede vir sy gedrag gegee nie.

Amanda Booysen sê twee honde is na die dierehospitaal geneem, maar niks kon vir hulle gedoen word nie.

“Hul binnegoed het uitgehang. Een hond het gevrek en die ander is uitgesit,” vertel sy.

Booysen sê dit was on­nodig om die honde te skiet, want hulle het die inwoners opgepas.

Son was op Brink se plaas om met hom oor die voorval te praat, maar hy was nie daar nie.

Toe Son die kantoor later Vrydag bel, het ’n kantoor-administrateur gesê hy het geen kommentaar nie.

Son het gevra om self met Brink te praat om sy kant van die storie te hoor, maar die dame het gesê Brink gaan in elk geval nie kommentaar lewer nie.

In ’n verslag van Fisantekraal Animal Welfare word gesê die eienaars van die honde het hulle vir hulp gekontak.

“Dit was baie ernstig.

“Ons het ge­reël dat hulle na die Tygerberg-dierehospitaal geneem word.

“Ons het die honde geken omdat hulle voorheen gebring is om ingeënt te word.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters