Verlede maand
Hond teiken twee
AMPER HONDEKOS: Dié kleintjie herstel nou van bytplekke aan haar been.  ~ Foto Verskaf

DIE SPCA moes ’n pit bull van kant maak nadat hy twee mense in Bonteheuwel gebyt het.

Volgens Belinda Abraham, ’n woordvoerder van die SPCA, het hulle Bingo die pit bull uitgesit nadat sy eienaar dit versoek het.

Na verneem word, het Bingo verlede week ’n eenjarige meisietjie in Redberrystraat gebyt. Angus McKenzie, raadslid van Bonteheuwel, sê die hond het die kind gebyt, sowel as ’n vrou wat tans op life support is.

Die pittie het op straat rondgedwaal.

“Soos ek verstaan, het die eienaar se seun die hond van sy leash losgemaak. Die hond het sy kans gesien en in die straat in gehardloop waar hy die slagoffers gebyt het.”

Die eenjarige herstel nou by die huis, maar McKenzie vertel dat sy nog erg getraumatiseerd is.

“Sy raak histeries wanneer sy ’n hond sien en boonop moet sy ook vir ernstige chirurgie gaan. Ons vra dat die SAPS die regte ding sal doen en die betrokke klagte sal opvolg. Dis ook ’n probleem dat die ouer steeds nie antwoorde van die SPCA af gekry het nie.”

Woedende

Intussen verduidelik Abraham dat hulle ’n oproep van talle inwoners in Bonteheuwel gekry het om hierdie hond te kom haal.

Abraham sê toe hul inspekteur by die toneel opdaag, is hy deur woedende inwoners ontmoet.

“Die mense het met stokke en pangas gestaan en hulle wou die hond doodmaak. Hulle het die hond as ’n evil dier beskryf.

“Die hond het tussen ’n informele struktuur en ’n heining weggekruip en ook verskeie beserings opgedoen omdat hy geslaan is.

“Ons reageer gewoonlik nie op versoeke van aggressiewe honde nie, maar dit was op ’n dringende versoek.”

Abraham meen dat dit die verantwoordelikheid van die eienaar is om seker te maak dat hulle die hond op ’n leash hou en beheer.

“Alle honde byt, maar as jy ’n kragtige dier soos dié het, moet jy sorg dat jy behoorlik daarna omsien en nie ’n gevaar in ’n gemeenskap loslaat nie. Hierdie honde het ongelooflike krag in hul kake.”

Sy sê mense moet ook die verantwoordelike ding doen en nie hul diere aggressief grootmaak nie.

“Elke hond het ’n geskiedenis in sy gene. Ek verstaan hul vlak van aggressie, ja, maar moenie iets onverantwoordeliks doen nie.

Pit bulls is geneig om gehard te wees, maar hulle kan ook opgelei word om nie so aggressief te wees nie.”

AO Joseph Swartbooi, ’n polisiewoordvoerder, bevestig dat daar ’n klagte ingedien is, maar hy voeg by dat die klaer nie versoek het dat ’n strafsaak vir verdere ondersoek geregistreer moet word nie.





Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters