7 dae gelede
‘Home boy’ ook uit ’n taxi gepot
MOORDTONEEL: Anwar, alias Shamis, ’n vermeende Home Boy-bendelid is gister helderoordag in Eastridge doodgeskiet.Foto: LEON KNIPE  ~ 

NOG ’n vermeende gangster is gister helderoordag in Mitchells Plain afgemaai.

Ene Anwar (22), ook bekend as Shamis, was na verneem word ’n Home Boy-bendelid. Hy is omstreeks 10:30 in Buffalo­straat doodgeskiet.

Jongens het glo vanuit ’n wit Quantum-taxi op die pa van twee dogtertjies losgebrand en hom noodlottig gewond. Hy is verskeie kere getref en is op die toneel dood.

Meer as tien koeëldoppies is op die toneel opgetel.

Dit kom kort op die hakke van nóg ’n aanval waarin jongens Sondagmiddag ook uit ’n wit Quantum-taxi in Eastridge geklim en op ’n gangster geskiet het.

Twee laerskoolleerders is in daardie skietvoorval gewond­. Een is in die gesig geskiet en gaan moontlik die sig in sy een oog verloor.

Die ander leerder is in die been gewond en moet in ’n rolstoel oor die weg kom.

DOOD: Anwar, alias Shamis, ’n vermeende Home Boy-bendelid, is gister koelbloedig in Eastridge doodgeskiet.Foto: FACEBOOK

Volgens Michael Jacobs, ’n gemeenskapsleier in Mitchells Plain, weet hy van agt mense wat net sedert Donderdagaand in Mitchells Plain in die bendegeweld doodgeskiet is.

Jacobs sê: “Daar word te veel werksessies gehou en niks drasties word gedoen om die bendes se geweld hok te slaan nie.”

  • In nog ’n skietvoorval gisteraand in Bishop Lavis is ’n 19-jarige ou ook in ’n drive-by-shooting gewond. Die voorval het omstreeks 19:45 in Olyfbergstraat gebeur.

Die man het voor sy woonstel gestaan toe jongens vanuit ’n motor op hom losbrand.

Hy is in die rug gewond en is tans in die hospitaal.

  • Linton September van Kewtown is Saterdagaand dood nadat hy in Bridgetown beroof en met ’n skroewedraaier gesteek is. Die voorval het buite die Nantes-kitskoswinkel in Bridgetown gebeur.

Hy is per ambulans hospitaal toe geneem, waar hy gesterf het.

Inwoners beoog om vandag omstreeks 20:00 ’n gedenkdiens by kerslig vir September te hou.

Volgens lt.kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, is niemand nog vir enige van die moorde gearresteer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters