25 dae gelede
Hof vind 6 Terrible Josters skuldig
SKULDIG
SKULDIG: Horatio Solomon en Ismail Ockerts  ~ verskaf

SES van die 12 vermeende lede van die Terrible Josters-bende is Maandag op verskeie klagte skuldig bevind.

Die Terrible Jos­ters-bende­baas, Horatio “Voudie” Solomon, is een van die skuldiges wat sy lot gehoor het.

Hy en 11 van sy vermeende bendebroers het meer as ’n jaar hof geloop.

Hulle het op 71 klagte in die Kaapse hooggeregshof verskyn.

Dit sluit in moord, poging tot moord en die smokkel van dwelms. ’n Voormalige lid van die bende wat staatsgetuie gedraai het, het Solomon uitgeken as die leier van die bende in Delft.

Solomon en sy regterhand, Ismail Ockerts, is albei skuldig bevind op ’n klag van moord.

Vermoor

Hulle het Vernon Botes op 29 Junie 2015 in Belhar afgemaai. Die twee is ook skuldig bevind op ’n klag van dwelmsmokkel.

Verder is Fabian “Fabba” Constable, Ziyaad Saafodien, Keenan Kruger en Lucian Consul ook op verskeie klagte skuldig bevind.

Kruger en Consul is skuldig bevind op twee klagte van moord, insluitend die moord op Victor Browers. Hy is op 13 Desember 2016 in Haltweg in Elsiesrivier vermoor.

Hulle is ook skuldig bevind aan die moord op George Stevens, wat op 4 Februarie 2016 in Adriaansestraat in Clarke Estate in Elsiesrivier vermoor is.

Constable is skuldig bevind aan die moord op Brandon “Mablou” Dickson.

Volgens die staatsgetuie wat vroeër in die verhoor getuig het, het Constable die slagoffer in Januarie 2013 in Belhar in die kop geskiet.

Gevonnis

Luidens die staatsgetuie was Dickson na bewering ’n lid van die Junior Mafias, ’n rival bende van die Terrible Josters.

Die skuldiges sal op 7 Oktober gevonnis word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters