4 dae gelede
Hof sê ma moor baba
opsetlik: Die jong mammie het volgens die hof veels te veel stories gehad oor hoe haar pappe baba gesterf het.Foto ter illustrasie: son  ~ 

“MY HART is gebreek.”

Só sê die ma van die jong vrou wat aan die moord op haar drie week oue baba skuldig bevind is.

Sy het haar babaseuntjie op 18 Oktober 2017 in haar ma se Eersterivier-huis vermoor, ’n paar dae nadat sy vir observasie in die Eersterivier-hospitaal was.

Badkamer

Die ma, wat na verneem word probleme met haar geestesgesondheid ervaar, het vir haar ma gesê dat iets nie reg is met haar nie en sy is na die hospitaal geneem, maar is kort daarna ontslaan.

Die baba se ouma en ouer boetie het op sy lykie in die badkamer afgekom.

Volgens haar ma, wat in die hof getuig het, het haar dogter normaal voorgekom en geen teken gewys dat iets fout was nie.

Regter Hailey Slingers het die jong ma Maandag in die Kaapse hooggeregshof skuldig bevind.

Die enigste redelike afleiding wat gemaak kan word, is dat die beskuldigde die oorledene vermoor het.
Regter Hailey Slingers

Slingers het haar ook skuldig bevind aan ’n klag van aanranding.

“Die enigste redelike afleiding wat gemaak kan word, is dat die beskuldigde die oorledene vermoor het.

Bed

“Die staat het bo redelike twyfel bewys dat sy die oorledene opsetlik vermoor het. Die staat het ook bewys dat sy die oorledene doelbewus aangerand het,” sê die regter.

Luidens die klagstaat het sy tussen 11 en 12 Oktober die baba opsetlik aangerand deur die kind op ’n rowwe manier op die bed te laat val.

Die jong ma het nie ’n oog geknip toe die hof haar skuldig bevind aan die ernstige klagte nie. Sy het voor haar uitgestaar en geen emosies getoon nie.

Die ma het verskeie weergawes gegee oor wat daardie dag gebeur het.

Slingers het aan die hof gesê wat wel bewys is, is dat die baba daardie oggend lewend was, dat die ma die laaste persoon was met die baba, dat die beserings wat die baba opgedoen het nie in ooreenstemming daarmee is dat hy op die vloer geval het nie, en dat sy nie daar was toe die baba gevind is nie.

Trane

“Sy het ontken wat sy aan haar ma en die pa van die kind gesê het. Om te sê haar getuienis was onreëlmatig, is ’n understatement.

“Haar getuienis het detail gekort en sy het geïrriteerd geraak tydens ondervraging in die hof,” sê Slingers.

Haar ma het wel buitekant die hof trane vir haar dogter gestort en aan Son gesê dat sy hartgebroke is.

Die ouma het voorheen in die hof getuig dat wat sy gesien het, definitief nie ’n ongeluk was nie, maar moord.

Sy het egter bygevoeg dat sy nie dink haar dogter is in staat om moord te pleeg nie.

Sy sê gister ná die uitspraak aan Son: “Ek het nie gedink my kind sal skuldig bevind word nie. Sy is oor die algemeen ’n sagte mens.

“Ek wil net weet wat het rêrig gebeur.

“Ek het gedink die saak sal ’n ander draai neem,” sê sy bewoë.

Joshua Chigome, woordvoerder van die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, Sharna Fernan­dez, sê die departement het ’n benadering van zero verdraagsaamheid ten opsigte van die mishandeling, verwaarlosing en moord op kinders in die provinsie.

Vordering

“Die departement se werk word gelei deur die Handves van Regte, wat bepaal dat elke kind die reg het om beskerm te word teen mishandeling, verwaarlosing en agteruitgang.

“Terwyl die regering vordering gemaak het met die realisation van hierdie regte, is duisende kinders regoor die land steeds slagoffers van mishandeling.

“Die departement glo sterk dat die beskerming van kinders en die skep van ’n veilige omgewing almal se verantwoordelikheid is,” sê Chigome.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, sê hulle is tevrede met die hofuitspraak.

“Ons en veral die staatsaanklaer is bly dat die hof al ons getuies, met uitsondering van een, as goeie getuies beskou het,” verduidelik Ntabazalila.

Die ondersoekbeampte, kapt. Koos van Wyk, was ook heel tevrede met die uitspraak en het dit as positiewe nuus vir sy eenheid belas met gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe beskryf. Die ma word op 4 November gevonnis.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters