9 maande gelede
Hof hoor ma weet kind ly
Skuldig of nie? Abigail Ruiters sit en dink.  ~ Peter Abrahams

GEBASEER op haar wetlike plig om op te tree om skade aan haar kind te voorkom, is Abigail­ Ruiters skuldig aan moord of strafbare manslag.

Dít is die argument wat die staatsaanklaer-advokaat Maria Marshall gister aan die hof voorgelê het.

Ruiters en haar ex-boy­friend Ameerudien Peters staan albei tereg vir die moord op haar 17 maande oue baba, Jeremiah Ruiters.

Verkragting

Die twee is ook aangekla vir kindermishandeling van Jeremiah se twee ouer sussies, Kiana en Zara.

Peters staan alleen tereg op ’n klag van verkragting van die babaseuntjie.

Ruiters het in haar getuienis aan die hof gesê sy was nie bewus van ál haar kind se beserings nie en het eerder vinger gewys na Peters, wat die hoofversorger was.

Maar Marshall het in haar hoofargument aan die hof gesê Ruiters was bewus van die kindjie se beserings en sy het steeds die kleintjie in Peters se sorg gelos.

Marshall het aan die hof gesê Ruiters moes voorsien het dat die kind se dood veroorsaak kon word weens die omvang van sy beserings as daar ’n aanranding plaasgevind het.

“Sy is nalatig omdat sy die kind in beskuldigde 1 se sorg gelaat het en dus kan sy as ’n alternatief skuldig bevind word aan strafbare manslag,” sê sy.

Ruiters se regsverteenwoordiger, adv. Yasmin Rajab, het in haar argument aan die hof gesê die staat het nie enige van die klagte teen haar kliënt bewys nie.

“Dit is my submission dat ’n redelike vrou in die posisie van beskuldigde 2, swanger, wat sewe dae per week werk, twee kleuters en ’n agjarige kind het, wat só min geld verdien, presies sou doen wat sy gedoen het.

“Dit is om die slagoffer in die sorg van die beskuldigde te laat, wat iemand is wat sy vertrou het,” sê Rajab.

Intussen het Marshall aangevoer dat Peters daardie oggend toe Jeremiah dood is, alleen saam met die kindjie in die kamer was, volgens Kiana se getuienis.

“Die mediese bewyse wys dat die noodlottige beserings waarskynlik daardie oggend van 12 Junie 2017 toegedien is.

“Kiana het getuig dat sy die kind gehoor huil het. Toe Peters met die kind uitkom, het sy kop gebloei en teen die tyd dat beskuldigde 1 met die kind by die kliniek aangekom het, was die kind dood,” sê Marshall.

Die enigste afleiding wat daaruit gemaak kan word, is dat Peters die beserings veroorsaak het omdat hy alleen met die kind was en daardie oggend voordat Ruiters werk toegegaan het, was Jeremiah sonder beserings.

Maar Peters se regsverteenwoordiger, adv. Alan Koester, het aan die hof gesê daar is geen ooggetuies wat gesien het dat sy kliënt die kind doodgeslaan of verkrag het nie.

“Ek betoog dat die be­serings wat die kind daardie oggend opgedoen het, kon gebeur het toe Peters bo-op die kind geval het toe hy na die kliniek gehardloop het,” sê Koester.

Koester het in sy argument aan die hof gesê dat sy kliënt onskuldig is op die klag van nalatigheid van die kinders.

“Geen kind is altyd netjies of skoon nie, nes niemand se huis altyd 100% skoon is nie,” sê Koester.

Ruiters en Peters sal binnekort, eerskomende Woensdag, hulle lot hoor.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters