5 maande gelede
Hits was hard en aspris
Koppe hang: Ameerudien Peters en Abigail Ruiters kyk tydens die getuienis grond toe. Foto: PETER ABRAHAMS  ~ 

UIT getuienis in die hof hierdie week was dit duidelik Jere­miah Ruiters is langdurig en aanhoudend gemartel.

Tydens die nadoodse ondersoek is 14 frakture aan die 17 maande oue seun se ribbekas gevind.

Dit was ook duidelik die kind se liggaam het probeer genees, maar dit was ’n opdraande stryd.

Jeremiah is op 12 Junie 2017 by die Factreton-kliniek dood verklaar nadat Ameerudien Peters met hom daar aangekom het.

Peters en Jere­miah se ma, Abigail Ruiters, was nog tot onlangs ’n couple.

Die twee staan saam tereg vir wat waarskynlik een van die mees brutale moorde nóg is.

Peters en Ruiters staan ook tereg vir die mishandeling van Jeremiah se twee sussies. Hulle is ouer as hy.

Terwyl die staatspatoloog, Marna du Plessis, gister haar getuienis voortgesit het, het die twee beskuldigdes heeltyd na die vloer gestaar.

Hulle het hulle kop veral laag gehou wanneer die patoloog foto’s van die nadoodse ondersoek opgelig het en aan die hof van die beserings uitgewys het waaroor sy getuig het.

Du Plessis het onder meer gesê die slagoffertjie het verskeie nuwe krake, asook ouer krake en frakture aan sy ribbekas gehad.

Een van die nuwer frakture aan die ribbes was bo-op ’n ou kraak.

Dit was so oud, die been daar het reeds verdik.

Du Plessis het voorts getuig een van die krake aan sy ribbekas was baie naby aan sy ruggraat.

Ook hier het die been reeds ’n verdikking gevorm.

Die patoloog het ook bloeding tussen die weefselruimtes van die ribbes opgemerk. Jeremiah het ook ’n kraak aan sy een sleutelbeen gehad.

Die krake aan sy ribbekas is deur stomp geweld veroorsaak.

Die hof het verder gehoor aan die laagste gedeelte van sy maag was ’n kneusplek wat pers en swart verkleur het weens bloeding.

Hierdie besering is ook die gevolg van stomp geweld.

Du Plessis het verder getuig daar was selfs kneusing aan die sak wat die ingewande bymekaarhou.

Stamp

Die staatspatoloog het verduidelik die sak sit hoog en diep in die maag en dit verg brute krag om dit te beseer.

“Dié tipe besering kan nie deur ’n stamp veroorsaak word nie. Dis deur stomp geweld,” het sy gesê.

Sulke geweld moes aan die bokant van die kind se maag toegedien geword het.

Die saak duur voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters