12 dae gelede
Hit op twee mans
TONEEL: Die lyk van een van die slagoffers lê kort ná die skietvoorval in die afgesperde straat.  ~ Foto Verskaf

’N HOND is Sondagaand saam met sy baas en nog ’n man in ’n dubbele moord doodgeskiet.

Twee vermeende gangsters is Sondag omstreeks 23:30 in Athall Walk, Hanover Park, koelbloedig doodgeskiet. Albei is op die toneel dood.

Volgens inwoners wat verkies om anoniem te bly, het daar meer as 20 skote afgegaan. Een van die mans se hond is ook in die proses doodgeskiet.

Daar was na verneem word die laaste ruk verskeie skietvoorvalle in die omgewing. Gangsters het Saterdagaand ook op die huise van buurtwaglede geskiet. Niemand is darem in dié voorvalle raakgeskiet nie.

In nog ’n skietvoorval Vrydagaand is ’n 17-jarige laitie in Mentz Court doodgeskiet.

Kashiefa Mohammed, ’n gemeenskapsleier en lid van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê: “Ons as die GPF werk in die gemeenskap, hoewel die polisie van Philippi ons nie erken nie.

Patrolleer

“Ons mobiliseer die buurtwaglede, want hulle is ook nou in opstand oor die hotspot-projek waarvoor hulle nie betaal is nie.

“Daar is ook nog die load shedding en straatligte wat af is. Dit maak dit moeilik om te patrolleer.

“Ons het genoeg van die skietery gehad en die buurtwag werk hard in die gemeenskap om die bende­geweld af te bring.”

AO Joseph Swartbooi, ’n woordvoerder van die polisie, sê die mans is verskeie kere raakgeskiet en die paramedici het hulle op die misdaadtoneel dood verklaar.

Die motief vir die moord is in hierdie stadium nog nie bekend nie.

Niemand is nog in verband met die moorde gearresteer nie, sê Swartbooi.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters