4 maande gelede
High-flyer se vlerke geknip
gekroek:Cupido se dissipels het bly glo hy sou hulle geld uitbetaal.Foto’s: jonathan lestrade  ~ 

OOMPIE is vir eers bankrot.

Die baasbrein agter 4th Power Investments loop met ’n dik baard in Touws­rivier rond nadat hy voorlopig bankrot verklaar is.

Die baard is vermoedelik die enigste “investment” wat ooit groei getoon het.

Deo Labiri (Edms.) Bpk. het op 29 Mei in die Kaapse hooggeregshof aansoek gedoen vir ’n likwidasiebevel teen David Cupido, beter bekend as Oompie.

Afskrif

Die kennisgewing is in ’n paar dagblaaie geadverteer.

Cupido het tot 9 Julie tyd om te bewys waarom die finale bevel nie toegestaan moet word nie.

As hy nie reageer nie, sal die balju beslag lê op alle eiendom wat aan hom behoort. ’n Afskrif van die bevel sal ook gestuur word aan die balju van elke provinsie waarin Cupido besighede besit.

Die groot vraag is natuurlik wat oor is waarop beslag gelê kan word.

’n Ingeligte sê Cupido besit deesdae net sy huis in Touwsrivier. Volgens die hofdokumente is dit in Steenvlietstraat. Deesdae ry hy met ’n Hyundai i20 rond, nie meer met ’n bloedrooi Mustang nie.

Bankstate van 4th Power wat in Son se besit is, wys daar is niks meer oor van die meer as R21 miljoen wat in die besigheidsrekening betaal is nie.

Die laaste bedrag – ’n volle R5 122 945,21 – is op 19 Januarie 2017 uit 4th Power se rekening getrek.

Gedurende hierdie tyd het FNB Cupido onder die gat geskop omdat hy nie ’n lisensie van die Financial Services Board het nie.

Hy moes toe die res van die geld uit die rekening trek en FNB het nooit weer daarna met hom besigheid gedoen nie.

Son het toe ook berig oor die sowat 12 000 beleggers wat begin kla het omdat hulle nie meer rente ontvang het nie.

Op die bankstate kan gesien word mense van Tulbagh, Beaufort-Wes, Atlantis, Knysna, Stellenbosch, De Doorns, Ceres, Grassy Park, Gauteng, Oudtshoorn, Brackenfell en Wynberg het kontant in die rekening inbetaal.

Dit lyk ook of Cupido se brokers uit die miljoene voordeel getrek het.

In die state kan gesien word hoe derduisende rande aan verskeie brokers betaal is. Die name van hierdie brokers is aan Son bekend.

Derduisende rande is ook elke dag in 2016 gedeponeer in ’n rekening van Cupido se vrou.

Daar kan ook gesien word hoe van die geld vir persoonlike aankope soos vleis, elektrisiteit, kos en ysterware gebruik is.

Cupido het destyds aan sy beleggers gesê sy geld is by The Dominion Bank in Kanada belê. Dié bank het al blou jare terug met ’n ander bank gemerge. Hy het belowe sodra hy sy geld kry, sal hy hulle uitbetaal.

Kapt. Philani Nkwalase, ’n woordvoerder van die Valke, het vroeër aan Son gesê hoewel die beleggers miljoene belê het, is daar geen rekord van geld wat buite die land se grense belê is nie.

Son het probeer om Cupido te kontak, maar albei kontaknommers was buite werking.  

STOP NOU ALLES: Meer as ’n jaar gelede het David Cupido hom nog op ’n vergadering pure pou gehou.
gekroek:Cupido se dissipels het bly glo hy sou hulle geld uitbetaal.Foto’s: jonathan lestrade
getrou:Dié belegger Kristina Kleinsmit (pers hoed) was een van die vele beleggers wat aan David Cupido se lippe gehang het en in hom geglo het soos haar Bybel.
vegters: Joanie en Rodney Visagie van die Worcester­aksiegroep het die beleggers destyds probeer help om hulle geld terug te kry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters