8 maande gelede
Hierdie ma laat mond nie snoer
soek antwoorde: Shireen Shaik kan nie glo wat met haar seun gebeur het nie. Foto: Jonathan Lestrade  ~ 
soek antwoorde: Shireen Shaik kan nie glo wat met haar seun gebeur het nie. Foto: Jonathan Lestrade
seer: Die kind se liggaam was vol blou merke.
eina: Ismail se gesig is lelik beseer.Foto’s verskaf

HAAR geestelik gestremde kind is lelik deur ’n medepasiënt aangerand in die hospitaal, wat dit nou probeer toesmeer.

Só beweer ’n hartseer mammie van Athlone, ­Shireen Shaik.

Shaik sê haar 20-jarige seun, Ismail, ly aan outisme en Down se sindroom. Hy is sedert September in die Alexander-hospitaal in Maitland omdat sy nie self na hom kan kyk nie.

Sy verduidelik: “Ismail is daarnatoe gestuur omdat sy gestremdhede veroorsaak dat hy aggressief word.

“Ek kon dit nie self beheer nie. Hy het spesiale hulp nodig.

“Ek kon hom naweke besoek en daar is altyd aan my gesê hy gedra hom goed.”

Maar dinge het verlede Saterdag verkeerd gegaan toe die mammie ’n oproep kry.

“Die dokter het verduidelik my seun was in ’n voorval betrokke en sy gesig is gekrap en sy rug blou.

“Toe ek daar kom, was dit baie erger. Sy gesig was só seer, ek kon nie eens daaraan raak nie.

“Hy is daar om hulp te kry en veilig te wees, maar kyk wat gebeur.”

Shaik sê haar seun kan nie praat nie.

Sy bars uit: “Hy kan wel nie praat nie, maar hy maak harde geluide.

“So, hoe kon niemand hom hoor nie?”

Volgens Shaik het iemand haar Saterdag gebel en gesê hy is die CEO van die hospitaal. Die persoon het glo gesê sy het met Son se verslaggewer gepraat en gevra hoekom die mammie na die media toe gegaan het.

Dit volg nadat die verslaggewer Vrydag ’n medianavraag na die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement gestuur het.

Son het egter nog nooit so ’n oproep gekry nie.

Shaik sê: “Hulle wil hê ek moet stilbly, maar ek gaan nie – dis my kind, my baby.

“Dit is nie reg wat met hom gebeur het nie! Ek soek antwoorde!”

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, bevestig ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer, word ondersoek.

Bianca Carls, ’n woordvoerder vir die departement, sê hulle is bewus van die voorval.

Carls sê: “Shireen Shaik is dadelik oor die voorval en ondersoek ingelig.

“Die bevindings van die ondersoek sal met Shaik en die polisie gedeel word.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters