Verlede maand
Herrie oor huur
ONENIGHEID: Clyde Jones sê hy is maar een van baie mense in die kompleks wat nie gelukkig is oor hoe hulle behandel word nie.  ~ Jonathan Lestrade

AS JOU huur agterstallig is, mag jy nie besoekers ontvang nie.

Dít is volgens ’n huurder die geval in Scottsdene Rental Estate in Kraaifontein.

Clyde Jones sê daar is baie onenigheid en mense is ongelukkig.

“Jy kan nie musiek maak nie. Jou ma kan nie eens vir jou kom kuier nie omdat hulle ingesign moet word.

“As mense hoor jy bly hier, dan sê hulle ‘nee, is orrait’,” vertel hy.

Jones sê die ergste van alles is as jy nie jou huur kan betaal nie, kan jy nie visitors ontvang nie.

“Jou naam word gesit op ’n lys op ’n bladsy by die ingang. Dit beteken jy kan nie visitors kry nie en daar word gestate jy is in arrears.”

Gemaklik

Jones sê dit is nie iets wat nou begin het nie; dit gaan al geruime tyd só aan.

“Almal sien dit en almal weet dit ook. Dit is dan jou personal besigheid. Hoekom moet almal weet?”

Jones voeg by selfs al is jy nou 50c agterstallig, jy gaan ’n bill kry.

“Jy kry nie visitors as jy nie daai 50c betaal nie.”

Volgens Jones voel mense glad nie gemaklik daarmee om uit te praat nie.

“Ek voel baie ongelukkig omdat ek al probeer het om die dinge op te los, maar dit lyk nie of my boodskap oorgedra word aan die mense wat die besluite maak nie.”

Jones sê baie mense het as gevolg van die pandemie hul werk verloor – ander selfs voor die pandemie.

“Mense sukkel baie en wil dinge regmaak, maar ons voel dit is nie reg dat ons as gevolg van ons finansiële omstandighede nie besoekers mag kry nie.”

’n Huurder wat anoniem wil bly, sê dit is baie hartseer wat aangaan.

“Baie van die mense wat agter is met hul huur, is jobless. Hulle eet nie meer dieselfde nie en hulle wag ook op UIF.

“Mense maak reëlings, maar word nie gehelp nie,” sê die huurder.

Jones voeg by hulle wil graag net hê iemand van die hoofkantoor moet met hulle kom praat sodat hulle reëlings met hulle kan tref.

“Ons wil graag hê hulle moet weet presies wat hier aangaan en dit van ons af hoor,” sê hy.

Renier Erasmus is die uitvoerende hoof van Madulammoho Hous­ing Association, wat Scotts­dene Rental Estate bestuur.

Erasmus sê die reëling dat huurders wat agterstallig is nie besoekers mag ontvang nie, is nie deel van die huurooreenkoms nie.

“Madulammoho bied aan elke huurder die geleentheid om na die kantoor te kom en reëlings te tref as hulle agterstallig is met huurbetalings. Sommige huurders kom nie na die kantoor nie.

“Ons het die sekuriteit gevra om ons te help met huurinvordering by diegene wat ons moeilik opspoor.

“Tydens die hard lockdown is kragtens die voorskrifte geen besoekers toegelaat nie. Dit wil nou voorkom of die sekuriteitswagte besoekers verhinder om die huurders sonder reëlings in die hande te kry.

“Toe ek oor hierdie praktyk ingelig is, is dit onmiddellik stopgesit.”

Erasmus sê Madulammoho het ’n open-door policy waardeur elke huurder toegang het tot die bestuur op die perseel, sowel as senior bestuur, om oor enige grief met hulle te kommunikeer.

“Dit sluit in om reëlings te tref vir die betaling van huur as ’n huurder deur ’n moeilike tyd gaan.

Deposito

“Gedurende die Covid-19-pandemie het baie huurders ons genader om reëlings te tref omdat hulle weens die pandemie nie kon huur betaal nie.

“Dit sluit in die gebruik van hul deposito om huurgeld te betaal, asook reëlings om die uitstaande huur oor ’n tydperk te betaal,” sê hy.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters