3 maande gelede
Hele gemeenskap in rou oor Tazne
HARTSEER: Terrence Manuel word deur Tazne se antie, Samantha Viljoen, getroos.  ~ Jonathan Lestrade

ROU snikke van die diepste diep hartseer klink op.

Die snikke het moeilik en seer uit die borste van Tazne van Wyk (8) se ouers, Carmen en Terrence Manuel, gekom.

Buite hulle huis was daar ook raserige tonele van hartseer en frustrasies.

’n Groot skare het buite Tazne se ouerhuis bymekaargekom toe die mense wakker word met die nuus dat die verdagte, Moyhdian Pangarker (54), vir die cops gaan uitwys het waar hy hulle lieflingkind soos ’n gebruikte lappop gaan weggooi het. Dit was Woensdagaand.

Tazne, wat amper twee weke soek was, se lyk is in ’n stormwaterpyp op die N1 net buite Worcester gevind.

Netwerk24 berig Tazne is vermoedelik binne die eerste 24 uur al vermoor en dat 'n lykskouing volgens hul bronne beserings aan haar kop wys.

'n Polisiebron het aan Son gesê hulle probeer nog vasstel waar en wanneer sy vermoor is.

Volgens inligting het Pangarker die polisie na die toneel gelei en haar lyk uitgewys nadat hy Woensdag in die Cradock Landdroshof op ’n klag van ontvoering verskyn het.

Pangarker is deur sy eks-vrou na die dorpie gelok en daar by ’n B&B gearresteer.

Die gemeenskap, familie, vriende en onderwysers het almal voor Tazne se huis byeengekom.

WAT NOU? Samantha Viljoen, Tazne se antie, wil van die land se nommer een weet hoekom hulle niks doen nie.

Daar was nie een droë oog toe haar antie Samantha Viljoen pres. Cyril Ramaphosa gesmeek het om iets aan die kindermoorde te doen nie.

“Hoeveel kinders moet nog sterf? Hoeveel ouers se trane moet nog so rol en hoeveel ouers moet hul kinders begrawe?

“Dis onregverdig! En die man wat dit gedoen het! Hy was al in die tronk omdat hy sy eie kind doodgemaak het.

“Nou gaan hy weer op ons taxpayers se geld lewe. Op die geld lewe van dieselfde mense wie se kind hy doodgemaak het.”

Maar Viljoen sê sy glo dat hulle trane nie op dowe ore val nie.

“God sien alles en daai man gaan God in die hande kry, want God slaap nie!”

Terrence vertel aan Son dat hy nie kan glo dat sy meisie weg is nie.

HARTSEER: Joanne October (links) en nog ’n inwoner kan nie getroos word nie.

Mamma Carmen is onmiddellik nadat die nuus aan die familie oorgedra is by ’n hospitaal ingeboek.

Familielede verduidelik dat sy in ’n verskriklike state ingegaan het. Sy het die voordeur afgebreek en net flou geval.

Die familie het nog nie die nuus aan Tazne se sustertjie, Tamzyn (4), oorgedra nie.

Familielede vertel aan Son hoe die vierjarige nog Woensdagaand in haar slaap opgestaan het om haar sussie te soek.

Volgens Carmen het die twee susters ’n baie hegte verhouding gehad.

GEBROKE: Magdalene Khan, Tazne se oumagrootjie, huil bitterlik oor haar engeltjie.

Boodskap

Daarna het Viljoen en Tazne se ouma Theresa Manuel namens die familie met die media gepraat.

“Hoe lewe ons sonder ons kind wat ons roos was?

“Ons kind wie se oë so mooi geskyn het, wat altyd gelag het en wat altyd ’n glimlag op haar gesig gehad het?” vra Viljoen.

Ouma Manuel het ook ’n boodskap aan al die mans daar buite gestuur: “Hou op ons kinders doodmaak. Hulle is ons toekoms.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters