14 dae gelede
Helde skool toe
GROOT OPGEWONDENHEID: Leerders kan nie uitgepraat raak daaroor dat hulle hul rugbyhelde in lewende lywe gesien het nie.Foto: ADNAAN MOHAMED  ~ 

DIE Stormers het Dinsdag in die versengende hitte in Riebeek-Kasteel geoefen.

Die Kaapse franchise oefen gewoonlik op ’n Dinsdag by die sentrum vir uitnemendheid in Bellville.

John Dobson, afrigter, en sy manne het egter Dinsdag besluit om heelpad na die platteland te reis om in die sowat 39°C te oefen.

Dobson sê daar is drie redes waarom hulle besluit het om by die Laerskool Riebeek-Kasteel te oefen.

Hy sê: “Ons speel dié naweek op altitude op die Hoëveld teen die Lions in Johannesburg. Om 15:00 op Ellispark te speel is ’n uitdaging en Riebeek-Kasteel is die naaste wat ons kan kom aan soortgelyke toestande.

“Ek weet nie van enige ander plek in die Wes-Kaap waar ons dieselfde toestande kon simuleer nie. Die tweede rede is dat dit deel van ons plan is om die Storm­ers se brand na die gemeenskappe te vat.

“Die derde rede is dat twee lede van ons span – Pieter-Steph du Toit en Johan­ du Toit – van hier is en hulle is gretig om gasheer vir ons te speel op hulle plaas.”

Berenice Jaanse, ’n onderwyseres aan die Laerskool Riebeek-Kasteel, sê die kinders was in hulle noppies toe hulle hoor die Stormers oefen by hulle skool.

Sy sê: “Die kinders, veral die kleintjies, is baie ex­cited­. Hulle kon nie wag om na die rugbyveld te kom net om die Stormers te sien nie.

“Dis vandag baie warm, maar daar is ’n great gees wat hier heers.

“Ons beskou dit as ’n fantastiese ervaring vir die leerders om hulle heroes in lewende lywe te kan sien.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters