3 maande gelede
Haweloses ná 30 j. getroud
wettig: Llewellyn en Cecelia Jenniker kan nou spog met hul huweliksertifikaat.  ~ 

NÁ 30 jaar saam – en dit op straat – het ’n hawelose paartjie gister afgehaak.

Cecelia (44) en Llewellyn Jenniker (45) het by die Culemborg Safe Space onder die N2-brug in die Kaapse middestad getrou.

Dié pragtige geleentheid is deur die Stad Kaapstad en vele ander organisasies moontlik gemaak.

Die paartjie, wat ’n 12-jarige seun het, woon nou reeds van Julie af in die Safe Space.

Die pasgetroude Cecelia het opgewonde aan Son gesê sy was verbaas toe haar man skelmpies sonder haar medewete die troue beplan.

Cecelia was in ’n pragtige roomkleurige trourok uitgetooi en die trane het gevloei toe sy op die maat van Elvis Presley se liedjie Only You instap.

Volgens Cecelia het sy terloops by iemand gehoor Llewellyn het skelmpies met die pastoor gaan praat.

Cecelia vertel: “Hy het toe vir my gesê hy is nou moeg daarvan om só te lewe.”

Cecelia sê selfs voordat sy amptelik mev. Jenniker geword het, het sy elke dag so gevoel.

“Hoe sê hulle? As jy al so lank saam met iemand is, is dit net so goed jy is getroud.

“As mense my op my nooiensvan, Absolom, genoem het, het ek altyd gesê nee, wag, ek is mev. Jenniker!

“Nou dat ek wel mev. Jenniker is, voel ek baie hoog.” Llewellyn het op sy beurt gesê hy voel soos ’n nuwe sikspens.

Deur ring getrek: Past. Manuel Benans trou die paartjie. Foto’s: Abrie Burger
vermaak:Die bekende sanger Nur Abrahams het spesiaal vir die paartjie kom sing.

Manuel Benans, wat die paartjie getrou het, sê voor die troudag het hy aan hulle berading gegee en gevra of hulle seker is van dié groot stap.

Benans sê albei het gelyktydig gesê dit ís wat hulle wil doen.

Benans het hulle voor die kansel weer ingelig waaroor die huwelik gaan.

“Die huwelik is nie iets wat jy ligtelik opneem nie.

“Daar sal uitdagings kom, maar julle kan na mense toe gaan om julle te help.

“Ons lewe in ’n tyd waar ons nie kan beplan wat in die lewe gaan gebeur nie.”

Benans het ook aan Cecelia gesê sy is gelukkig dat Llewellyn haar gekies het om sy lewe mee te deel.

Ná die paartjie se troue het hulle hul huwelik saam met al hul familielede en vriende gevier.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters