24 dae gelede
Harde slag laat inwoners skrik
TEER: Die seer was twee jaar gelede groot met verskeie gedenkdienste wat gehou is toe agt werkers in ’n ontploffing gesterf het.  ~ Netwerk24

TOE inwoners van Macassar gister in die vroeë oggendure ’n klipharde slag hoor, het hulle gevrees nóg ’n tragedie speel hom by Rheinmetall Denel Munition (RDM) af.

Dis net meer as twee jaar gelede dat agt werkers hul lewe in ’n ontploffing by dié aanleg verloor het.

Nadat die nuutste slag gehoor is, het inwoners­ inderhaas in die sosiale media begin rondvra van waar dit gekom het.

Hoewel hulle bespiegel het dis weer Denel, het die aanleg vinnig laat hoor hy verbrand net afval by sy aanleg in Somerset-Wes.

In ’n verklaring sê RDM daar het Woensdagoggend geen ontploffing of verwante voorval by enige van sy produksiefasiliteite plaasgevind nie.

“Daar was geen beserings of sterftes nie.

“Die harde slag wat deur die gemeenskap gehoor is, kom van RDM se brandfasiliteit by die Somerset-Wes-aanleg.

“Hierdie fasiliteit is ’n afvalvernietigingsfasiliteit vir die beheerde verbranding van ontploffingsafvalmateriaal.

“Die afvalmateriaal wat gisteraand verbrand is, is hoë plofstowwe wat ’n harde geluid afgee wanneer dit verbrand word.

“Ander produkte maak net rook of vlamme wanneer dit gebrand word.

Risiko

“Ook omdat die wind baie stil was gisteraand, het die klank verder as gewoonlik getravel.”

Denel sê die rede hoekom hy die afval laataand verbrand, is omdat die wind dan baie stiller is en dit die risiko verminder dat ’n brand kan ontstaan.

Oor al die brandweerpersoneel en ander owerhede wat deur die gemeenskap gesien is, verduidelik Denel dit is protokol wanneer hy hierdie proses volg.

PANIEK: Kort ná die tragiese ontploffing in 2018 haas bekommerde familielede hulle na die toneel. Foto: Jonathan Lestrade

Denel vra verder om verskoning aan die gemeenskap vir die harde slag en sê die maatskappy dra kennis dat dit inwoners ontstel het.

Die maatskappy het die gemeenskap daarvan verseker daar is geen risiko vir hulle wanneer hierdie prosedure gevolg word nie.

Ian Baard berig verskeie inwoners van Macassar wat langs die fabriek bly, is omstreeks 00:20 deur die ontploffing wakker geskud en mense het in hul karre geklim en hulle na die fabriek gehaas om te gaan uitvind wat daar gebeur het.

Skok

Rhoda Basier, gemeenskapsleier en ANC-stadsraadslid, sê as daar beter kommunikasie tussen die maatskappy en die gemeenskap was, sou so iets nooit gebeur het nie.

Sy sê die gemeenskap ly nog aan skok ná die laaste ontploffing waarin agt mense dood is. Sy wil ook weet of die gesondheidsgevare in ag geneem word wanneer RDM afval verbrand.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters