11 maande gelede
Hannah: DNS piemp hulle
Voor: Vernon Witbooi, Geraldo Parsons (swart hoodie) en Eben van Niekerk is aangekla van Hannah se moord en verkragting. Foto:Shantel Moses  ~ 

HANNAH Cornelius se DNS is op een van haar vermeende verkragters en moordenaars se geslagsdele gevind.

AO Blanche Stubbs, ’n DNS-ontleder van die polisie, het gister getuig dat Hannah­ se DNS op Geraldo Parsons­ se penis gevind is.

Parsons, Vernon Witbooi en Eben van Niekerk is aangekla van die moord op en verkragting van Hannah. Hulle staan ook tereg op ’n string ander aanklagte wat roof, menseroof en poging tot moord insluit. Nashwill Julies loop hof net vir roof.

Die staat voer aan hulle het vir Hannah en Cheslin Marsh voor sy koshuis in Birdstraat, Stellenbosch, ontvoer.

Hulle het toe glo vir Cheslin aangerand en Hannah later verkrag en vermoor.

Toetsmonsters van al die beskuldiges, asook Cheslin, is by die hospitaal gevat.

Parsons en Witbooi is binne 12 uur van die gruwelike misdade in hegtenis geneem en toetse is dadelik op hulle gedoen.

Daar is ook swabs geneem van die kar se handvatsels, kondome, ’n mes en koeldrankbottel wat in die kar gevind is.

Stubbs sê Parsons se DNS is in die kondoom gevind.

Die DNS kom nie van semen nie, maar van selle van die vel. Witbooi se DNS is op ’n kondoom gevind. Ook in die kondoom was geen semen nie.

Hannah CorneliusFotoVerskaf

Hannah se DNS is verder op die mes ook gevind.

Op een kondoom is ’n mengsel van DNS gekry, maar Parsons se DNS kon daaruit gelees word.

Stubbs het getuig dat daar ’n uitstaande profiel was, maar dat sy ’n monster moes hê om dit mee te vergelyk.

Die DNS is vermoedelik dié van ene “Kaffertjie”, wat glo saam was toe Hannah verkrag en vermoor is.

Hy is egter nooit aangekeer nie. Van Niekerk se DNS is nie op die vyf kondome gevind­ nie.

Die saak duur vandag voort wanneer die hof na verwagting sal beslis of Van Niekerk se briefie aan Hannah se ouers as ’n bewysstuk ingedien mag word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters