10 dae gelede
Hannah: Ál 4 is skuldig
SKULDIG: Vernon Witbooi, Geraldo Parsons, Eben van Niekerk en Nashwill Julies luister na die getuienis in die hof.Foto: PETER ABRAHAMS  ~ 

GERALDO Parsons en Vernon Witbooi was die voorbokke in die moord op en verkragting van Hannah Cornelius.

Eben van Niekerk was nie onder dwang nie en het Hannah ook verkrag en aangerand.

Dus is die monsters ál drie skuldig op ál tien aanklagte.

Hulle medebeskuldigde, Nashwill Julies, is skuldig op twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede en twee van ontvoering.

Regter Rosheni Allie het gister in die Kaapse hooggeregshof uitspraak gelewer.

Sy het gesê die vier het die blaam op mekaar gepak en hulle rolle verklein.

Tog het elkeen hulself op die toneel geplaas, het Allie aangevoer.

Witbooi het ’n bekentenis afgelê en Parsons het in die hof getuig. Van Niekerk het ’n jammer-sê-briefie aan Hannah se ouers geskryf en Julies het ’n pleitverduideliking aan die hof gelewer.

VERLIGTE SLAGOFFER: Cheslin Marsh sê hy is bly die hofsaak staan darem nou einde se kant toe.

“Hierdeur het elkeen skuld beken, maar op alle aanklagte onskuldig gepleit.”

Allie het gesê die vier was kop in een mus in die rooftog en ontvoering, en hulle het dit beplan.

“Daar is duidelike bewyse dat elkeen sy rol geken het, hoewel hulle dalk nie van mekaar se rolle geweet het nie. Op CCTV kon ’n mens sien hoe elkeen by ’n deur gaan wag hou voordat hulle toegeslaan het.

“Daar was geen wegkomkans vir Hannah en Cheslin Marsh nie.”

Die twee Maties het op 27 Mei 2017 voor Cheslin se koshuis in Birdstraat, Stellenbosch, in Hannah se kar gesit toe die viertal toegeslaan het.

Allie het gesê anders as Julies, wat hom uit die voete gemaak het, was Van Niekerk saam toe Cheslin in Kraaifontein aangerand, en Hannah verkrag en later vermoor is.

“Jy (Van Niekerk) het haar ook met ’n skerp voorwerp in die nek gesteek wat net sowel tot haar dood kon gelei het. Die hof het dit so aanvaar omdat Parsons hieroor getuig het en nóg mense getuig het dat jy jou bebloede klere uitgebrand het.”

Sy het gesê Parsons en Witbooi was die main katte in die misdaad-orgie.

“Parsons het getuig hy het Hannah eerste verkrag.

“Dit wys hy was ’n leier.

“Hy het ook vertel dat Witbooi heeltyd voorstelle gemaak het in die roof van Cheslin, Hannah en twee ander vroue later die oggend.

“Hy het ook die geld by die ATM’s getrek. Hy was die een wat Hannah vermoor het deur ’n groot rots op haar kop te gooi, het Parsons getuig. Witbooi het dit nooit betwis nie en die hof het dit so aanvaar.”

Die aanklagte teen Witbooi, Parsons en Van Niekerk was: vier van roof met verswarende omstandighede, drie van ontvoering, poging tot moord, verkragting en moord. Hulle is skuldig op alle aanklagte.

Julies is net skuldig op die aanklagte van ontvoering en twee van roof.

Son

Cheslin het die uitspraak bygewoon. Hy het gesê hy is verlig dat die hofsaak amper verby is.

“Ek hoop hulle kry ’n lang straf. As dit van my afgehang het, sal hulle nie eens weer die son sien nie.”

Die hofsaak sal vandag voortgaan.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters